Ohio-skieter se suster een van die slagoffers

Connor Betts. Foto: (Dayton Police Department via AP)

Die 24-jarige man wat Sondag nege mense in Dayton, Ohio, doodgeskiet het, is destyds uit sy hoërskool geskors nadat hy lyste saamgestel het van mense wat hy glo wou vermoor en meisies wat hy glo seksueel wou aanrand.

Volgens mense wat saam met Connor Betts op skool was, is die lyste in die badkamer gevind waarna hy geskors is. Die Dayton Daily News het in 2012 berig dat daar ʼn polisie-ondersoek was oor die lyste en dat talle kinders geweier het om skool by te woon uit vrees dat hulle geteiken sou word. Dit is egter nie duidelik wat van die ondersoek geword het nie.

Die polisie het ná Sondag se voorval waartydens Betts ná sy moordtog doodgeskiet is, gesê daar was geen rooi ligte wat Betts sou kon keer om die .223-kaliber-vuurwapen en ammunisie wat tydens die aanval gebruik is, te koop nie.

Betts het nie ʼn misdaadrekord gehad nie, maar indien jy as jeugdige aangekla is, sou die rekord daarvan ingevolge wetgewing amptelik steeds geld.

Betts se 22-jarige suster, Megan, was een van die slagoffers nadat hy by die Ned Peppers-kroeg losgebrand het. Die ander slagoffers was tussen 25 en 57 jaar oud. Die motief vir die skietery is nog nie bekend nie.

Patrick Crusius. Foto: (FBI via AP)

Dit is intussen bekend gemaak dat die massaskietery in El Paso, Texas, as ʼn terreursaak hanteer sal word. Die voorval word as ʼn haatmisdaad geklassifiseer en indien die skieter hieraan skuldig bevind word, kan hy die doodstraf opgelê word.

Dié aanval het etlike ure voor die massaskietery in Ohio plaasgevind en 20 mense is doodgeskiet en 26 gewond. Die voorval het in ʼn Walmart-winkel plaasgevind.

Die verdagte in die saak is intussen geïdentifiseer as die 21-jarige Patrick Crusius van Allen, wat sowat tien uur se ry van El Paso is.

Die verdagte se grootouers, Larry en Cynthia Brown, het Sondagaand ʼn verklaring uitgereik wat deur ʼn familievriend aan die media gelees is.

Die Browns-egpaar het gesê hulle is platgeslaan deur die voorval. Volgens hulle het hul kleinseun ses weke gelede uit hul huis getrek.

Pres. Donald Trump het albei skietvoorvalle ten sterkste veroordeel en gesê “haat het geen plek in ons land nie”.

Minstens 125 mense is reeds vanjaar in massaskietvoorvalle in die VSA dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marius ·

Dit is baie erg en sterkte aan gelieftes maar nogsteeds het jy n beter kans om in jou eie huis in SA vermoor te word.Is maar elke aand bekommerd my familie kry seer in SA.

Johan ·

Dis waansinnige mense wat sulke dinge doen. Gelukkig het Amerika n goeie president. Hy gee om.

Jan ·

Hierdie voorval het nie plaasgevind nie dis fake nuus deur die amerikaanse regering. Waar is die fotos van die koelgate ens…hulle gebruik krisisakteurs…

Abe ·

Jan,
Wat op aarde laat jou dink dis “fake news”. Dit word gedra deur BBC, CNN, en feitlik elke europese agentskap.

Jan ·

Hierdie voorval het nie plaasgevind nie dis fake nuus deur die amerikaanse regering. Waar is die fotos van die koelgate ens…hulle gebruik krisisakteurs…

Nettie ·

Ja-nee, Jan, en al die nuusstasies en webwerwe wat hieroor berig gegee het, die video materiaal van tientalle polisievoertuie, nooddienste ens. ens. is natuurlik ook alles “opgemaak” deur die VSA om aandag te trek. Ai, moet tog nie jou “ignorance” so oop en bloot vertoon nie!

jan ·

Presies reg dit is wat hulle wys om jou te mislei. la die nuusagentskappe word deur die regering beheer.Waar is die koelgate ens…

jaco ·

polisie het die lyste met name ondersoek, maar dit is nie duidelik wat van die ondersoek geword het nie
Het ek reg gelees??? Gebeur sulke goed in Amerika ook, waar meriete, opleiding en ondervinding tel by aanstellings en nie NET “regte” velkleur soos in SA nie

Anti-Jerry ·

Die ‘Afrikaanse Sanger” was nog nooit in politiek nie ou seun. Dit is die politici en ander ongewenste karakters wat hom nooit kan uitlos nie. Bepaal jou by jou eie sake.

Jan ·

Hierdie voorval word opgemaak met die doel om die amerikaanse oubliek te ontwapen…kyk na alex jones se website hy le alles bloot..

Gert ·

Gun free zones. Daar was talle sulke vaks nuus. Rede om mense en lande te ontwapen. Burgers sonder weerstand is maklikke groepe

Ironies ·

So Trump veroordeel haat. Wil iemand tog die ironie in sy stelling aan hom verduidelik? Sug… Eye roll…

Dubbel standaarde ·

Ek se weer dis alte lekker in SA mense gee voor dis n paradys in VSA met Ou Trumpet skrik wakker toe eks nou oppad winkel toe in vrede

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.