Oktoberfest terug ná pandemie-hiatus

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Oktoberfest/Facebook)

Die Oktoberfest, die gewilde Duitse bierfees, sal vanjaar eindelik weer sy bierbekers kan afstof nadat dit vir twee jaar weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is.

München se burgemeester, Dieter Reiter, het Vrydag aangekondig dat die fees later vanjaar weer in dié stad aangebied sal word.

Die fees sal boonop “sonder voorwaardes of beperkings” aangebied word.

Dié wêreldbekende fees het jaarliks, voor die aanvang van die pandemie, ongeveer ses miljoen besoekers getrek. Dit is vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog in 2020 gekanselleer nadat die koronavirus uitgebreek het.

Die fees, wat gewoonlik tussen September en Oktober gehou word, is weer verlede jaar gekanselleer, aangesien Duitsland met opeenvolgende virusgolwe gesukkel het.

Sedert die aanvang van die pandemie het die toestande waaronder feeste soos dié bedryf word, verander.

Desnieteenstaande het Reiter tydens ʼn mediakonferensie gesê die land se gesondheidsorgstelsel verkeer nie meer onder sulke beduidende stres weens die koronavirus nie.

Nuus dat die gewilde fees wel voortgaan, en die aansteeklike opgewondeheid wat daarop gevolg het, het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

“Oktoberfest 2022, ek kom vir jou!” het een Twitter-gebruiker geskryf.

“Ek hoop nie die situasie vererger in herfs dat ons die fees op die nippertjie moet kanselleer nie,” het Reiter bygevoeg.

Die meeste Covid-19-beperkings is reeds in Duitsland opgehef, onder andere die vereiste om maskers in winkels en skole te dra. Planne om ʼn entstofmandaat in te stel is ook laat vaar.

Die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne het ʼn skadu oor soortgelyke lentefeeste in onder andere Bavaria gegooi en gesprekke dat sulke feeste moet voortgaan, het reeds hewige debat ontlok.

Die kansellasie van die Oktoberfest as gevolg van die konflik “kon nie geregverdig word nie”, het Reiter gesê terwyl hy sy simpatie met Oekraïense burgers uitgespreek het.

“Niemand kan sê hoe die situasie [met die oorlog] in herfs gaan wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Dit klink lekker… “Bierfees”. Al wat ons gereeld sien is die anc se niks seggende kfc feeste.

JohanR ·

Soek om geld by iemand te leen on Duitsland toe te gaan vir die Octoberfest asseblief. Die rand soos die ANC is meer as nutteloos! Vandag R16.67 – €1. As ek nou my jaarlike toelaag van R200000 vat om te gaan suip daar in Munchen dan kry ek €11998.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.