Die skynbare moeitelose opmars van militante Moslems in Irak het reeds die internasionale olieprys tot die hoogste vlak in agt maande laat styg, berig ANP.
Die prys van Brent-ru-olie het die afgelope twee dae met ongeveer 4,4 persent gestyg.
Die militante van die Islamitiese Staat van Irak en Sirië, ISIS, het die internasionale gemeenskap geskok toe Irak se tweede grootste stad, Mosoel, verower is. Die ISIS is daarna skynbaar onkeerbaar na Bagdad onderweg, en die een olieproduserende stad na die ander word skynbaar moeiteloos oorgeneem.
Die ISIS het aanvanklik as ‘n dogterorganisasie van Al Kaïda tot stand gekom, maar Al Kaïda het hom intussen hiervan gedistansieer omdat ISIS “te erg” is.
ISIS, wat in die Soenie-minderheid van Irak gesetel is, het ook reeds ‘n aanval op die Koerdiese selfregerende gebied gedoen. Donderdag is berig dat die Koerde self die olieryke stad, Kirkut, oorgeneem het. Die Koerde maak al lank op dié stad aanspraak.
Volledige agtergrond oor die situasie kan hier gelees word.