Olieprys styg na dood van Saoedi-koning

Abdullah bin Abdulaziz (regs) saam met  Lee Hsien Loong, eerste minister van Singapoer. Foto: Facebook

Abdullah bin Abdulaziz (regs) saam met
Lee Hsien Loong, eerste minister van Singapoer. Foto: Facebook

Die prys van Brent ru-olie en Amerikaanse olie het met sowat twee dollar gestyg na die nuus dat Saoedi-Arabië se 90-jarige koning, Abdullah bin Abdulaziz, oorlede is.

Saoedi-Arabië word as die hoofdryfveer beskou wat veroorsaak het dat die internasionale olieprys die afgelope maande skerp gedaal het. Onsekerheid oor die impak van die troonopvolging word as rede aangevoer.

Addullah is deur sy 79-jarige halfbroer Salman opgevolg. Abdullah was effektief sedert 1995 aan bewind toe die destydse koning, sy halfbroer, Fahd, ’n beroerte gekry het. Sedert 2005, met Fahd se afsterwe, was hy formeel koning. Salman het reeds sy halfbroer, Marqin, as kroonprins aangewys.

Abdullah het enkele hervormings in die land aangebring, soos om vroue stemreg in die munisipale verkiesings later vanjaar te beloof. Hy het egter nie die verbod op vrouebestuurders opgehef nie, maar wel die lyfstraf van tien houe vir ’n vrou wat wel bestuur het, tersyde gestel.

Die Saoediese koningshuis word in hul hervormingsvermoëns beperk deur ’n akkoord wat die koningshuis met ’n magtige kliek van ultra-ortodokse geestelikes gesluit het. Die koningshuis se voortgesette bewind is van hierdie akkoord afhanklik. Daar word dus min verligting in die land se uiters streng godsdienswette en gereelde uiters wrede strawwe verwag.

Abdullah was ’n stabiele bondgenoot van die VSA, en pres. Barack Obama het met die koning se afsterwe die heuningkwas mildelik ingespan om hom te beskryf. Waarnemers meen dit is vir die ore van Salman bedoel, omdat Saoedi-Arabië se vriendskap veel belangriker is as die VSA se wêreldwye missie om demokrasie en menseregte te bevorder. Trouens, Abdullah en ander Arabiese monarge het alles in die stryd gewerp om die pro-demokrasie Arabiese opstande te onderdruk.

Abdullah is beskou as een van die vernaamste magte om Iran se magsopbou teen te staan. Amerikaanse koerante neig dus om baie fokus op Abdullah se hervormings te plaas, al was dit betreklik min.

Presies hoe delikaat die posisie in Saoedi-Arabië is blyk daaruit dat die Soenie-vertakking van die Islam wat die land polities oorheers, die Wahabiete, ideologies baie na-aan die Salafiete lê wat weer Al Kaïda, die IS, Al Shabaab en Boko Haram rig. Altesaam 15 van die 19 vliegtuigkapers wat aan die 2001-aanvalle op die VSA deelgeneem het, was van Saoedi-Arabië afkomstig. Die land het egter sy volle steun vir die stryd teen Al Kaïda toegesê, en veg in Irak teen die IS.

Bronne: Christian Science Monitor, Trouw, De Standaard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eliza-beth ·

LYFSTRAF vir vroue wat bestuur? Grote genade dan kerm mense hier te lande as kinders lyfstraf in skole kry, hier het die volwasse vroue sommer lyfstraf gekry vir iets so simpels as om motor te bestuur! En sommer tien houe nogals! Nee liewe aarde ek is nou sommer weer baie bly ek woon in SA!

Henkst ·

In Saoedi-Arabië word die “heerskappy van god” deurgegee deur die direkte toepassing van die Sharia, sonder verdere grondwet of goddelik staatshoof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.