Oliestorting: Partytjie aan boord toe skip strand

Die Japannese MV Wakashio het op 15 Augustus 2020 in twee geskeur (Foto: Verskaf/Sunil Dowarkasing via ANA)

Bemanningslede het ʼn verjaarsdagpartytjie gevier en hulle was naby die kus op soek na ʼn Wi-Fi-sein toe die MV Wakashio aan die kus van Mauritius gestrand en ʼn yslike oliestorting tot gevolg gehad het.

Maroela Media het vroeër berig die kaptein van die skip, Sunil Kumar Nandeshwar (58), is in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklag dat hy veilige navigasie in gedrang gebring het. Dit is ʼn oortreding volgens die Wet op Seerowery en Maritieme Geweld, aldus die nuuswebwerf gCaptain.

Nandeshwar is saam met die bevelvoerder Tilak Ratna Suboda in hegtenis geneem, wat tereg staan op dieselfde aanklag.

Nandeshwar en Suboda sal na verwagting op 25 Augustus weer in ʼn hof in Mauritius verskyn.

Ná onderhoude met die bemanning het dit aan die lig gekom dat ʼn verjaarsdagpartytjie op die skip gevier is op die dag wat dit skipbreuk gely het, aldus die BBC. Uit berigte wil dit voorkom of die vaartuig ook nader aan die kuslyn gekom het om ʼn Wi-Fi-sein te kry.

“Ons verstaan dat die skip naby aan die land gekom het, glo om ʼn Wi-Fi-sein te kry,” het Anneke Whelan, maritiemeregspesialis, Woensdag in ʼn onderhoud met CapeTalk gesê. “Toe die kuswag glo met hulle wou kontak maak, was daar niemand om die oproep te beantwoord nie; hulle het iemand se verjaarsdagpartytjie aan boord gevier.”

Op die vraag of dit algemene praktyk is dat ʼn kaptein in hegtenis geneem word indien ʼn oliestorting plaasvind, het sy gesê: “Die kaptein is die absolute owerheid op die skip. As die kaptein enigiets doen wat strafregtelik roekeloos is, kan hy in hegtenis geneem word.”

Nagashiki het gesê ʼn span spesialiste werk steeds daaraan om die oorblywende olie uit die see en kusgebiede te verwyder om die impak op die omgewing te verlig. MOL sal op 21 Augustus ook toerusting stuur om die olie te verwyder. ʼn Span kundiges sal ook later in Augustus ontplooi word om by MOL se span van ses kenners aan te sluit wat al sedert 12 Augustus in Mauritius is.

Die vragskip het op 25 Julie op die Pointe d’Esny-koraalrif aan die Suidkus van die eiland gestrand. Die toestand van die skip het deurlopend versleg en teen 6 Augustus het die skip begin om olie te lek toe golwe daarteen bly slaan en uiteindelik die romp begin skeur het. Die skip het ten tyde van die voorval 4 000 ton olie vervoer waarvan 1 000 ton van sy vrag eindelik in die kuswater uitgelek het. Die voorste deel van die skip het Saterdagmiddag in twee geskeur op die riwwe van Pointe d’Esny en sowat 30 meter ver weggedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christo ·

Dit verduidelik alles. Die skeepskaptein verdien tronkstraf.

Cecilia ·

Ai tog asof mens nie genoeg problemen op landheer nou word die see ook vernietig deur olie storting??

Niklaas ·

Dit laat my dink aan die luukse skip Concordia se stranding naby Italië. Ook a. g. v. daai kaptein se dom besluit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.