Oliestorting: Skip skeur in twee

Vrywilligers neem deel aan die skoonmaakoperasie in Mahebourg, Mauritius (12 Augustus 2020) (Foto: AP Photo/Beekash Roopun-L’express Maurice)

Gure weer vertraag bedrywighede om die wrak van ʼn Japannese olietenkskip te verwyder wat op ʼn koraalrif naby Mauritius gestrand het, het plaaslike media en ʼn omgewingskenner Sondag berig.

Die skip, wat 4 000 ton olie vervoer toe dit op 25 Julie naby die eiland skipbreuk gely het, het sowat 1 000 ton van sy vrag in die kuswater uitgelek.

Die voorste deel van die skip het Saterdagmiddag in twee geskeur op die riwwe van Pointe d’Esny en sowat 30 meter ver weggedryf, het Alain Donat, direkteur van maritieme sake, aan die plaaslike koerant, Le Mauricien, gesê.

Die voorste deel sou Saterdag weggesleep word, maar gure weer het die bedrywighede vertraag.

Die agterste deel van die skip sal aanvanklik in die golwe gelos word, het Donat gesê. Plaaslike owerhede probeer nog bepaal wat met dié deel van die skip sal gebeur, het Nagashiki Shipping, die eienaar van die skip, Sondag gesê. Die maatskappy het ook bevestig die skip het Saterdagmiddag omstreeks 14:00 in twee geskeur.

Sowat 40 ton olie is Sondag nog in die MV Wakashio en owerhede poog om dit te verwyder voor dit ook in die oseaan uitlek.

Shinjiro Koizumi, Japannese minister van omgewingsake, het Saterdag aan verslaggewers gesê hy beplan om ʼn span ministeriële beamptes en kenners na Mauritius te ontplooi sodat hulle die omvang van die skade kan besef.

Nagashiki Shipping het Donderdag gesê hy het byna alles van die oorblywende 3 000 ton olie verwyder.

Mauritius het verlede week ʼn noodtoestand verklaar, maar owerhede is daarvan beskuldig dat hulle te traag was om op te tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

Die mens maak sulke magtige masjiene. Skepe wat 1000de tonne in vrag oor die water kan vervoer. Dan verfrommel God se natuur dit wanneer dit lastig word en die natuur beskadig.

Danie

…sodat dit die natuur kan beskadig?