Oliestorting stel Mauritiaanse lewens, natuur in gevaar

‘n Satellietfoto van die skip. (Foto: 2020 Maxar Technologies via AP)

Die Japannese vragskip wat twee weke gelede naby die kus van Mauritius skipbreuk gely het, het ophou olie stort ná meer as 1 000 ton olie in die Indiese Oseaan uitgelek het.

Die Mauritiaanse regering het ʼn ekologiese noodtoestand afgekondig en inwoners en bewaringsagentskappe blameer die regering vir sy trae reaksie.

Owerhede is nou in ʼn stryd teen tyd gewikkel totdat die skip uitmekaar skeur en 4 000 ton olie gestort word en die wêreld se grootste vleiland, duisende spesies en die lewens van Mauritiërs bedreig.

Die Japannese vragskip, die MV Wakashio, wat deur Nagashiki Shipping besit word en deur Mitsui OSK Lines (MOL) Ltd bedryf word, het op 25 Julie op die Pointe d’Esny-koraalrif aan die suidkus van die eiland gestrand, aldus die bewaringsorganisasie Mongabay en Reuters.

Die toestand van die skip het deurlopend versleg en teen 6 Augustus het die skip begin om olie te lek toe golwe daarteen bly slaan en uiteindelik die romp gekraak het. Die regering in Mauritius het op 7 Augustus ʼn noodtoestand verklaar.

Eerste minister Pravind Jugnauth het Maandag die publiek in kennis gestel dat 500 ton olie reeds veilig verwyder is. Daar was Dinsdag berigte dat 1 020 ton olie verwyder is, met die reddingsbedrywighede onder leiding van Smit International, aldus Seatrade Maritime News.

MV Wakashio het geen ander vrag aan boord nie en was oorspronklik op pad na Brasilië.

Mauritius en sy 1,3 miljoen inwoners steun swaar op die see vir ekotoerisme en het ʼn reputasie opgehou as ʼn bewaringsuksesverhaal en ʼn wêreldklasbestemming vir natuurliefhebbers.

Die storting is ʼn dubbele slag vir toerisme-operateurs wat gehoop het buitelandse toeriste gaan sommer binnekort weer na Mauritius stroom. Die land het geen aktiewe Covid-19-gevalle nie en het ʼn oorwinning oor die uitbreking verklaar nadat daar geruime tyd geen nuwe infeksies aangemeld is nie.

Die land maak ook op die see staat vir kos en inkomste. Seevaarders in Mahebourg, waar die eens ongerepte see nou ʼn sieklike bruin kleur is, is bekommerd oor die toekoms.

“Vissery is ons enigste bedryf. Ons weet nie hoe ons ons gesinne gaan kosgee nie,” het ʼn visserman, wat sy naam net as Michael aangegee het, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.