Olietenker brand steeds, vrese vir reuse-omgewingsramp

In hierdie foto wat deur Korea se kuswag uitgereik is, kan die brandende The Sanchi-olietenkskip gesien word (7 Januarie 2018). Foto: Korea Coast Guard via AP

ʼn Olietenkskip wat Iranse olie vervoer en Saterdag teen ʼn Chinese vragskip in die Oos-Chinese See gebots het, brand steeds en lek olie.

Die olietenkskip, The Sanchi, wat aan Iran se top-olieverskaffer behoort, het Saterdagaand teen die CF Crystal gebots, ongeveer 160 seemyl weg van China se kus naby Sjanghai en die riviermonding van die Jangtse-rivierdelta.

Die olietenkskip is steeds in vlamme gehul met digte, donker rook wat uit die brandende skip borrel.

Die Washington Post berig kenners is bekommerd dat as die brand nie gou onder bedwang gebring word nie, die skip dalk kan ontplof en sink. Dit sal tot gevolg hê dat nagenoeg 1 miljoen vate olie in die see beland.

Die moontlike lekkasie sal drie keer groter as 1989 se Exxon Valdez-lekkasie wees, wat as een van die ergste omgewingsrampe in die geskiedenis beskou word. Dit sal ook dubbel die grootte wees as toe die Prestige-olietenker in 2002 aan die kus van Spanje gesink het. Dié lekkasie het skade aan strande in Frankryk, Spanje en Portugal aangerig en tot die sluiting van een van Spanje se rykste visvanggebiede gelei.

Die olietenkskip was van Iran na Suid-Korea op pad met 136 000 ton kondensaat, ʼn ultraligte ruolie, aan boord toe dit teen die CF Crystal gebots het. Die CF Crystal, wat in Hongkong geregistreer is, het graan vanaf die VSA vervoer. Die kondensaat is hoogs giftig en meer vlambaar as gewone ruolie. Dit is ook kleur- en reukloos, wat dit byna onmoontlik maak om op te spoor.

ʼn Olielekkasie in dié gebied kan ʼn ernstige uitwerking op die Chinese waterfront se natuurlewe hê.

As die skip nie sink nie, sal die impak op die omgewing baie meer beperk wees. Tussen 40% tot 70% van die olie sal heel waarskynlik binne ʼn paar uur verdamp. As dié gasse egter na dorpe en stede oorwaai, kan dit inwoners se bestaande gesondheidstoestande vererger of lei tot asma-aanvalle en veroorsaak dat mense hoes.

Intussen is die liggaam van een van die 32 vermiste bemanningslede Maandag gevind en na Sjanghai gestuur vir uitkenning. Die soektog na die ander bemanningslede duur voort.

China het reeds vier reddingskepe en vier skoonmaakbote na die toneel ontplooi, terwyl Suid-Korea ʼn skip en helikopter gestuur het.

Die Amerikaanse vloot het militêre vliegtuie gestuur om met die soektog na die bemanningslede te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anneke ·

Mag die gesoute seevaders onder ons asb vir my verduidelik hoe op ganse aarde kry die skepe dit reg om te bots? Wil jy vir my sê van al die seemyle op seemyle kies hulle toevallig dieselfde koordinate en wat, bots agv slegte visie of wat ookal hulle verskoning is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.