Olietenkskip in ligte laaie ná botsing; 32 vermis

In hierdie foto wat deur Korea se kuswag uitgereik is, kan die brandende The Sanchi-olietenkskip gesien word (7 Januarie 2018). Foto: Korea Coast Guard via AP

ʼn Olietenkskip wat Iranse olie vervoer en Saterdag teen ʼn Chinese vragskip in die Oos-Chinese See gebots het, was Maandag steeds in ligte laaie terwyl noodreddingspanne nog onverpoos na vermiste bemanningslede soek.

Die olietenkskip, The Sanchi, wat aan Iran se top-olieverskaffer behoort, het Saterdagaand teen die CF Crystal gebots, ongeveer 160 seemyl weg van China se kus naby Shanghai en die riviermonding van die Jangtse-rivierdelta. China se staatstelevisie CCTV het Sondag beeldmateriaal vertoon van die olietenkskip wat steeds in vlamme gehul is met dik donker rook wat uit die brandende skip borrel.

China het vier reddingskepe en vier skoonmaakbote na die toneel ontplooi, terwyl Suid-Korea ʼn skip en helikopter gestuur het.

ʼn Skermskoot van beeldmateriaal van die brandende olietenkskip wat op China se CCTV uitgesaai is. Foto: CCTV via AP Video

China Daily het Maandag berig die Amerikaanse vloot het militêre vliegtuie gestuur om met die soektog na die bemanningslede te help. ʼn Kuswagbeampte het gesê dit is nie tans bekend of enige van die 32 vermiste bemanningslede al gered is nie. Hy het om 08:00 Koreaanse tyd met Reuters gepraat.

Die olietenkskip was van Iran na Suid-Korea op pad met 136 000 ton kondensaat, ʼn ultraligte ruolie, aan boord. Dit is gelykstaande aan net minder as een miljoen vate wat, gegrond op wêreld-ruoliepryse, sowat $60 miljoen (ongeveer R742 miljoen) werd is.

Hanwha Total Petrochemical Co Ltd in Suid-Korea sou die vrag in ontvangs geneem het en ondersoek nou maniere om die verlore vate te vervang, het ʼn woordvoerder gesê. Die maatskappy kan moontlik sy eie voorraad gebruik, vir Iran vra vir nog ʼn vrag of alternatiewe kondensaatverskaffers van Katar oorweeg.

Die botsing het nie Maandag die maatskappy se bedrywighede beïnvloed nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.