Olifante geskiet in Namibië

Die olifanttande wat gevind is (Foto: Verskaf)

Twee olifante is binne ’n week van mekaar in Namibië doodgeskiet. Polisie in Namibië het die afgelope twee weke ook op sowat 119 wildprodukte beslag gelê.

Die Namibian Sun het Donderdag berig dat die een olifant moontlik onwettig geskiet is. Sy karkas is verlede week op ʼn plaas in die Kavango Oos-streek gevind. Daar word beweer dat die olifant op ʼn ander plek geskiet is as waar die karkas gevind is.

Dié olifant is bokant sy regteroog geskiet. Sy tande was ongeskonde.

Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie van omgewingsake, sê die olifant het moontlik nadat hy geskiet is in oesreste geval.

Die ander olifant is glo van kant gemaak omdat die dier ’n bedreiging vir mense in die omgewing ingehou het.

Die polisie het ook verlede week op 119 wildprodukte beslag gelê. Twee Angolese burgers is net daarna in hegtenis geneem. Die Angolese burgers was in besit van ses olifanttande, een koedoevel en 112 ystervarkpenne.

Drie Namibiërs is ook in hegtenis geneem vir die beweerde besit van twee ietermago-velle. Hulle is elk op borgtog van N$10 000 toegestaan. Hulle gaan na verwagting op 11 Junie in die hof verskyn.

In nóg ’n saak is ’n man wat in besit van ’n luiperdvel betrap was, borgtog van N$10 000 toegestaan. Sy saak is tot 3 Junie uitgestel vir ’n verhoordatum.

Die aanlyn publikasie Namibia Economist het onlangs berig dat die Cheetah Conservation Fund (CCF) ’n wetenskaplike artikel gepubliseer het wat die konflik tussen wilde roofdiere en boere in die  oostelike kommunale gebiede van Namibië ondersoek.

Volgens ’n uitgebreide opname wat op voetsoolvlak gedoen is, het die gemiddelde verliese per boer ongeveer 8% van hul kuddes beslaan, en beloop dit net meer as N$2 800 per boer per jaar. Volgens CCF was die verlies groot in vergelyking met ander Afrika-gebiede suid van die Sahara, wat die erns van die probleem weerspieël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.