Olifante in Indië ook getoets vir koronavirus

Argieffoto (Foto: veverkolog/Pixabay)

Altesaam 28 olifante by ʼn natuurreservaat in die suide van Indië is vir Covid-19 getoets, het beamptes Woensdag gesê, ná ʼn seldsame Asiatiese leeu van die virus gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn negejarige leeuwyfie is vroeg in Junie dood by ʼn dieretuin in Chennai in Tamil Nadu. Dit is vermoedelik die eerste dier wat in Indië gevrek het weens die koronavirus.

Sy was deel van nege leeus wat positief getoets het vir die virus, insluitend twee wat in ʼn kritieke toestand is, het Chennai se The New Indian Express-koerant verlede week berig.

“Ná leeus by Vandalur-dieretuin positief getoets het vir Covid-19, is ons gevra om die olifante in die kamp te toets as ʼn voorsorgmaatreël,” het ʼn bewaarder by die Mudumalai-tierreservaat in die suide van Tamil Nadu Woensdag aan AFP gesê.

Neus- en rektale monsters is Dinsdag van 28 olifante geneem, insluitend twee kalfies. Dit is na die Indiese veeartsenykundige navorsingsinstituut gestuur in Uttar Pradesh. Die diere se hanteerders het hul slurpe opgelig om ʼn monster uit elke neusgat te bekom.

Die uitslae sal na verwagting binne ʼn week beskikbaar wees.

“Die diere het nie enige simptome nie, dit is bloot as ʼn voorsorgmaatreël,” het die bewaarder benadruk. “Dit was nie moeilik om die monsters te kry nie, omdat dit almal opgeleide olifante is.”

Sowat 21 tiers by ʼn dieretuin in die oostelike staat van Jharkhand het verlede week virustoetse ondergaan ná ʼn 10-jarige tier met ʼn koors gevrek het, het plaaslike media berig. Die tier het ʼn negatief getoets vir ʼn vinnige antigeen-toets, maar beamptes sê hulle wag ook vir die uitslae van ʼn RT-PCR-toets, het die Press Trust of India berig.

Deel van: Wêreldnuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Dirk Mostert

Olifante, leeus, tiere. Wat volgende? Voels en visse?