Olimpiese skiër beland bo-op kameraman

Die Finse skiër Jon Sallinen val op ‘n kameraman tydens sy item by die Olimpiese Winterspele. (Foto: Ben STANSALL / AFP)

ʼn 21-jarige vryslagskiër kan sy sterre – en ʼn kameraman – dank dat hy nie ernstig seergekry het toe hy Donderdag tydens sy ski-beurt geval het nie.

Die Finse skiër Jon Sallinen sê hy sou sekerlik baie ernstig seergekry het indien hy die grond, eerder as die ongelukkige kameraman, getref het toe hy tydens die eerste ronde van sy item by die Olimpiese Winterspele uit die halfpyp gevlieg het. “Ek sou sekerlik op my kop geland het as dit nie vir die kameraman was nie. Ek hoop hy is oukei, want ek het reg op hom geland.”

Sallinen het effens op sy sleutelbeen geland en sê hy het ʼn kraakgeluid gehoor, maar tog besluit om voort te ski. “Die kameraman het waarskynlik as ʼn bietjie van ʼn kussing gedien en verhoed dat ek baie seerkry.”

Die atleet het tydens die tweede ronde uitgeval en uiteindelik laaste in sy item geëindig.

Hy was nie die enigste een wat tydens die kompetisie, wat te midde van ligte sneeuval plaasgevind het, geval het nie. Nieu-Seeland se Ben Harrington het ook hard teen die kant van die halfpyp te lande gekom en vir ʼn paar oomblikke bewegingloos in die pyp bly lê. Paramedici het hom te hulp gesnel en ʼn paar minute later het hy wel hinkepink van die baan af geloop en later gesê hy is “oukei”.   “Ek is meer teleurgesteld as enigiets anders. Ek wou so graag in die eindstryd wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.