Olimpiese Spele dalk uitgestel weens koronavirus

‘n Toeris neem Dinsdag ‘n foto in Tokio met die Olimpiese Spele se embleem in die agtergrond. (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Die Olimpiese Spele wat veronderstel is om vanaf 24 Julie tot 9 Augustus in Tokio in Japan plaas te vind, kan dalk tot later vanjaar uitgestel word te midde van die verspreiding van die gevreesde koronavirus, oftewel Covid-19, het Seiko Hashimoto, Japan se minister verantwoordelik vir die Olimpiese Spele, Dinsdag gesê.

BBC berig Hashimoto het gesê Tokio se kontrak met die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) vereis dat die Olimpiese Spele steeds vanjaar moet plaasvind.

Dick Pound, senior lid van die IOK, het verlede week die publiek gerus gestel dat die Spele soos normaal op die geskeduleerde datums sal voortgaan, tensy openbare gesondheidsowerhede en amptenare bevestig dat die Spele nie gehou kan word nie.

Volgens Pound is dit ook problematies om die Spele uit te stel weens finansiële en ander logistieke redes.

Die moontlikheid ontstaan dat die Olimpiese Spele in Tokio uitgestel kan word (Eugene Hoshiko, AP)

Kommer het onder atlete en aanhangers ontstaan oor die Spele se toekoms weens die aantal sterfgevalle wat tans meer as 3 000 wêreldwyd is.

CNN berig dr. Michael Ryan, uitvoerende direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie se gesondheidsgevalle-program, het gesê geen besluit is of sal binnekort geneem word rakende die toekoms van die Olimpiese Spele nie. Pound het vroeër die week gesê ’n besluit oor of die Spele uitgestel of gekanselleer moet word, kan binne die volgende drie maande geneem word.

Die IOK sê voorsorgmaatreëls teen die aansteeklike siekte geniet prioriteit om die Spele op die geskeduleerde datum te laat plaasvind.

Bronne: BBC, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Genade, is dit enigsins ‘n besluit wat oorweeg moet word. Skuif dit en kry klaar, mens speel net met mense se lewens nie. Die wêreld sal wragtig nie vergaan as die spele uitgestel word nie. Ja EK weet die atlete het hard geoefen, maar wil jy die kans vat en dan later uitvind jy het die siekte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.