Olimpiese Spele: Talle stede sê ‘nee dankie’

(Foto: AP Photo/Jae C. Hong)

Honderde dorpe en stede in Japan is gedwing om weer te dink oor planne om Olimpiese spanne te huisves, omdat openbare verskynings nie weens die Covid-19-pandemie sal kan plaasvind nie en duur veiligheidsmaatreëls tot gevolg sal hê.

Die westelike dorp Okuizumo het meer as $5 miljoen spandeer om Indië se hokkiespan vir die voor-Spele opleidingskamp te huisves, maar weens Covid-19 moes die besoek gekanselleer word.

Ná geld in verskeie sportfasiliteite belê is, het Okuizomo onttrek toe dit duidelik geword het dat hy biosekuriteitsmaatreëls met gereëlde virustoetse en mediese sorg sal moet verskaf.

“Ons wou hê een van die wêreld se topspanne moet ons dorp kom besoek sodat hulle hul vaardighede vir ons plaaslike kinders kan wys,” het ʼn plaaslike beampte, Katsumi Nagasi, aan AFP gesê. “Dit blyk nou egter onmoontlik te wees.”

Meer as 500 munisipaliteite het aangedui dat hulle atlete en beamptes sal huisves in ʼn poging om voordele uit die Olimpiese Spele tot buite Tokio uit te brei.

Sommige, soos Okuizumo, het reeds planne geskrap om oorsese atlete te huisves, terwyl ander sorgvuldige programme probeer beplan – met die hoop dat hulle almal veilig sal kan hou.

In plaas daarvan om inwoners die kans te gee om die elite atlete te ontmoet en nuwe sportsoorte te probeer, sal dorpe enige planne vir fisiese interaksie, skoolbesoeke en openbare opleidingsessies moet kanselleer.

Kurihara, in die noordelike Miyagi-prefektuur, sou Suid-Afrika se hokkiespan huisves, maar het besluit die uitgawes is nie meer die moeite werd nie, gegewe die beperkings wat die virusmaatreëls verg. “Dit is ʼn projek wat ons belastinghulpbronne sal gebruik,” het Hidenori Sasaki, ʼn beampte van die plaaslike onderwysraad, aan AFP gesê. “As dit dan net atlete is wat aan ʼn opleidingskamp deelneem sonder enige kontak met plaaslike inwoners, sal plaaslike inwoners nie die voordele geniet nie.”

In sommige gevalle het Olimpiese spanne reeds gekanselleer – besorg oor die risiko van infeksie voor die Spele.

Australië se swemspan het sy plan laat vaar om in Nagaoka in Niigata te oefen, het die burgemeester in Maart aan media gesê.

Kanada se tafeltennisspan sal ook nie meer na Okaya-stad in Nagano gaan nie. Tomoko Hirose van die stadbeplannerskomitee, is van voornemens om plakkate van die atlete in die dorp op te sit. “Ons aanmoediging gaan dalk ʼn eenrigting-interaksie wees, sonder fisiese kontak, maar gegewe die situasie moet ons maar net aanbeweeg,” het sy aan AFP gesê.

Nie alle gasvryheidsdorpe het hul planne laat vaar nie. Tsuruoka in Yamagata-prefektuur sal verskeie Olimpiese en Paralimpiese atlete en beamptes van Moldowa en Duitsland huisves. Die stad het al jare lank bande met Moldowa, het Takayuki Ito, ʼn beampte van die stad se onderwysraad, gesê. “Dis belangrik vir ons om voort te gaan met ontmoetings,” het Ito aan AFP gesê, met verwysing na onlangse aanlyn boogskiet-kompetisies tussen die twee lande. “Daar is goed wat mens kan doen sonder om baie geld uit te gee. Ons voel goed oor ons program.”

Dit sal egter nie eenvoudig wees nie. Die atlete sal in hul eie koshuis bly en slegs op toegewyde roetes na gimnasiums en opleidingsgeriewe mag beweeg. Geen kontak met inwoners word toegelaat nie.

Yonago, in die westelike Tottori, sal ook dosyne mense van Jamaika se swem-, gimnastiek- en Paralimpiese bootspanne huisves. Die stad het al sedert 2015 bande met Jamaika en glo sy gasvryheidspligte sal dié band verstewig, het Kyohei Takahashi, van die stad se sportbevorderingseenheid, gesê. Die atlete sal op ʼn toegewyde vloer bly en ʼn personeel-hysbak in die hotel gebruik. Hulle sal die voorportaal en hoofingang vermy om kontak te beperk. Hulle sal ook gereeld vir die virus getoets kan word. Daar is ook toegewyde roetes na gimnasiums en swembaddens. “Ons het baie vroeg al beplan,” het Takahashi gesê. “Ons sal nie in hierdie stadium die atlete kan ontmoet nie, maar die nalatenskap sal bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Laat staan Spele oor tot volgende jaar. Waarom soveel tyd en geld mors as dit nie moeite werd is nie. Dit gee atlete nog kans om meer voorbereid te wees.

Jack

Die wereld sal sonder die Olimpiese spele oorleef maar as ons nog baie langer so baie geld moet bestee net om Covid te keer gaan die wereld ekonomie in depressie verval.

Kompas

Inenting is die antwoord, anders gaan ons nooit weer “normaal” kan aangaan.

JamesJohnNRobert

Solank die atlete tenminste net kan gaan, ons het TV en internet.