Olivia de Havilland sterf op 104

Olivia de Havilland in September 2004. (Foto: AP Photo/Kevork Djansezian, FILE)

Olivia de Havilland, die Oscar-bekroonde aktrise en laaste oorlewende ster van die ikoniese rolprent Gone with the Wind, is Sondag in haar huis in Parys, Frankryk, dood. Sy was 104.

Volgens Lisa Goldberg, haar New Yorkse publisiteitsbeampte, is sy aan natuurlike oorsake dood.

Ten tyde van haar dood was De Havilland die oudste Oscar-wenner nog in die lewe. Sy het vyf Oscar-benoemings vir haar deurbraakrol as Melanie Wilkes in Gone with the Wind (1939) gekry. Sy het dié gesogte beeldjie egter eers in 1946 verower as beste aktrise vir haar rol in To Each His Own. In 1949 het sy nóg ʼn goue beeldjie vir beste aktrise huis toe geneem vir haar spel in The Heiress.

In 1943 het De Havilland, met die ondersteuning van die Screen Actors Guild, die Warner Brothers-ateljee hof toe gesleep nadat hulle ekstra tyd by haar oorspronklike kontrak gevoeg het as ʼn straf omdat sy rolle van die hand gewys het.

Olivia de Havilland op 24 Maart 1950. (Foto: AP Photo, File)

Die Kaliforniese hooggeregshof het in haar guns beslis in wat bekend gestaan ​​het as die De Havilland-beslissing, wat die greep wat ateljees op hul akteurs gehad het losgemaak het.

Haar loopbaan as aktrise het oor meer as vyf dekades gestrek en sy het in meer as 50 groot rolprente gespeel. Sy het tot in die laat tagtigerjare toneel gespeel en in 1986 ʼn Golden Globe-toekenning vir Anastasia: The Mystery of Anna verower.

In 2017 is die eretitel dame aan De Havilland enkele weke voor haar 101ste verjaardag toegeken.

De Havilland is op 1 Julie 1916 in Tokio, Japan, gebore. Haar ouers is geskei toe sy drie jaar oud was en haar ma het haar en haar suster, die Oscar-wenner Joan Fontaine, in Saratoga, Kalifornië, grootgemaak. Sy en Fontaine het ʼn onstuimige verhouding gehad tot en met dié se dood in 2013.

De Havilland se eie twee huwelike, met Marcus Goodrich en Pierre Galante, het albei in die skeihof geëindig.

Sy het sedert 1953 in Parys gewoon. Sy laat ʼn dogter, Gisele Galante Chulack, haar skoonseun en ʼn niggie agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.