Oman se nuwe heerser neem leisels oor op kritieke oomblik in Midde-Ooste

Mans bid by sultan Kaboos al Said se graf in Muskat. Hy is Vrydag in die ouderdom van 79 dood. (Foto: Oman News Agency)

Sultan Kaboos bin Said van Oman is Saterdag begrawe en sy opvolger is reeds aangewys – ʼn aanduiding van bestendigheid in dié klein Arabiese land wat ten spyte van sy grootte geweldige invloed het weens sy liggings op sommige van die wêreld se belangrikste handelsroetes en sy rol as streeksmediator.

Koboos is Vrydag in die ouderdom van 79 dood en was die Midde-Ooste se langsdienende Arabiese heerser.

Sy opvolger, Haitham bin Tarik al Said, het wel heelparty uitdagings in die vooruitsig wanneer hy oorneem by Kaboos wat Oman die afgelope bykans 50 jaar eiehandig regeer het en beskou is as die vader van die moderne Oman.

In ooreenstemming met Moslem-tradisie is die begrafnis gehou enkele ure ná Kaboos se dood.

Die eenvoudige en statige begrafnisseremonie is by die Sultan Kaboos- groot moskee in Oman se hoofstad, Muskat, gehou. Die plegtigheid het weggeskram van die soort swierige staatsbegrafnis wat gebruiklik in dié streek is – dié soort begrafnis wat kon gebruik word om leiers van oor die wêreld daarheen te lok en Oman ʼn kans te gee om met sy status te spog.

Haitham (65) is as opvolger aangewys nadat die owerhede ʼn geseëlde brief van Kaboos oopgemaak het waarin hy die persoon wat hy as sy opvolger aanwys, benoem. Kaboos het geen direkte afstammelinge gehad nie en het in lewe nooit sy keuse van opvolger in die openbaar bespreek nie. Haitham is Kaboos se neef.

Sultan Haitham bin Tariq Al Said lewer sy eerste toespraak na sy beëdiging. (Foto: Oman News Agency/AP)

Die flinke opvolging van ʼn nuwe heerser het ʼn einde gemaak aan bespiegelings dat die sultan se dood tot destabilisering en ʼn magstryd in die koninklike familie kan lei.

Oman beheer toegang tot die mond van die Persiese Golf, die wêreld se belangrikste olieroete, en speel ʼn al hoe belangriker rol danksy die skeepsroete tussen China en Afrika se groeiende markte.

Nadat hy in sy amp beëdig is, het Haitham onderneem om die beleid van sy voorganger voort te sit. Kaboos was hoogs gerespekteer onder baie Omaniete omdat hy bestendigheid gebring het na dié eens diep verdeelde land. Sy vyf dekade lange heerskappy het ook die grootliks konserwatiewe samelewing gemoderniseer.

“Ons sal in die toekoms steeds gelei word deur die sultan se wysheid. Ons sal dit wat hy bereik het, bewaar,” het Haitham in ʼn toespraak wat op televisie uitgesaai is, gesê.

Hy het ook gesê hy sal Oman se rol as vredemaker en bemiddelaar in die streek en tydens internasionale dispute voortsit.

Kenners sê die gladde oorgang gaan Haitham help om sy geloofwaardigheid onder baie Omaniete te versterk.

Sultan Kaboos al Said is Saterdag in Muskat begrawe. (Skermgreep: Oman TV via AP)

Hoewel Kaboos se dood nie ʼn onverwags was nie – hy het die afgelope twee jaar al hoe meer uit die openbare oog verdwyn te midde van gerugte dat hy kanker het – het Haitham verskeie hindernisse om te oorkom as hy in sy indrukwekkende voetganger se voetspore wil volg.

“Dit gaan moeilik vir hom wees om Kaboos se skoene vol te staan, want dit was gróót. Hy gaan ʼn manier moet vind om harte en siele te wen,” het Cianza Bianco, ʼn amptenaar verbonde aan die Europese Raad oor buitelandse betrekkinge gesê.

Die meeste Omaniete ken geen ander heerser as Kaboos nie en talle het op sosiale media oor sy dood gerou.

Die verhoogde spanning tussen die VSA en Iran het intussen vrese van ʼn veel wyer konflik laat ontstaan wat Oman óók kan betrek en sy reeds kwesbare ekonomie skade kan berokken. Dit kan ook ʼn toets wees vir die nuwe sultan om ʼn middeweg tussen vyande in die streek te probeer vind.

Dit lyk nie of enigiemand Haitham se geloofwaardigheid betwyfel nie. Hy het in Oxford studeer, is ʼn voormalige minister van kultuur en ʼn jarelange senior raadgewer van Kaboos in sy departement van buitelandse sake.

Bianco het Haitham as ʼn man beskryf wat meer luister as praat.

As daar wél tweespalt is oor sy nuwe rol, is dit onwaarskynlik dat dit in dié geheimsinnige koninkryk aan die lig gaan kom. “Spanning daaroor kan seker nie uitgesluit word nie, maar ek dink nie ons gaan ooit daarvan weet nie,” het Bianco gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.