Omikron in Nederland vóór SA vlugte

(Argieffoto)

Volgens Nederlandse gesondheidsowerhede is die Omikron-variant in Nederland ontdek ’n week voordat twee Suid-Afrikaanse vlugte in dié land aangekom het.

Daar is aanvanklik geglo dat die eerste gevalle in Nederland deur Suid-Afrikaners ingebring is wat Vrydag op twee KLM-vlugte die land binnegekom het. Altesaam 61 van die passasiers op dié vlugte het positief vir die virus getoets. Hulle is tans in kwarantyn.

Twee gevalle van die nuwe Covid-19-variant is op 19 en 23 November in Nederland ontdek. Die owerhede probeer nog vasstel of hierdie twee mense Suider-Afrika besoek het.

Nederland is een van talle Europese lande, waaronder België en Duitsland, wat gevalle van die nuwe variant aangemeld het voordat dit op 24 November amptelik in Suid-Afrika bevestig is.

België was die eerste Europese land wat die nuwe variant bevestig het. Die persoon het op 22 November positief getoets en simptome ontwikkel – 11 dae nadat die persoon via Turkye na Egipte gereis het.

Duitsland het intussen gesê dat ’n persoon wat positief vir die variant getoets het op 21 November by die internasionale lughawe in Frankfurt aangekom het.

Volgens die Nederlandse Instituut vir Openbare Gesondheid en Omgewingsake gaan daar in die volgende paar dae verskeie studies gedoen word oor die verspreiding van die Omikron-variant in Nederland.

Nederland het tans 16 bevestigde Omikron-gevalle. Dit is die land in Europa met een van die hoogste getalle van die nuwe variant.

Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, het die afgelope naweek gesê as ʼn variant in ʼn land opgespoor word, is dit nie noodwendig te sê dat die variant in daardie land ontstaan het nie. “Suid-Afrika word onnodig gestraf,” het hy in reaksie op die verskeie reisbeperkings gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lourens

En hulle het pas op die nuus gesê dat nóg omicon infeksies in ander lande gekry is by mense wat in GEEN kontak met SA of mense van SA was nie.
So, hoe nou?

casper

Aagh ja – So die een was voor daai een en kom ons gooi eeder koeke rond as om iets daadwerkliks te doen !!

Dries

Ek verstaan nie wat hulle probeer sê nie. Die virus besluit self wanneer hy gaan muteer en waar. Maak nie saak in watter land nie. Dit kan in veelvuldige lande tegelyk gebeur

Strandloper

Te min te laat…die bug is soos die anc…oral

Daniel

Ek wonder hoeveel van die 61 mense wat positief getoets het was “gevaksineer”?