Omstrede Anne Frank-boek herroep

“The Betrayal of Anne Frank: A Cold Case investigation” deur die Kanadese skrywer Rosemary Sullivan. (Foto: Sem van der Wal / ANP / AFP)

’n Nederlandse uitgewery het ’n nuwe boek herroep waarin beweer word dat ʼn Joodse notaris vir Anne Frank en haar gesin tydens die Tweede Wêreldoorlog verraai het.

Die uitgewer Ambo Anthos het Dinsdagaand die Nederlandse uitgawe van The Betrayal of Anne Frank: A Cold Case investigation deur die Kanadese skrywer Rosemary Sullivan met onmiddellike inwerkingtreding herroep.

Dít nadat die boek sedert sy publikasie in Januarie onder skerp kritiek deurgeloop het oor die ondersoek waarop dit gegrond is.

Luidens dié boek – gegrond op ’n ses jaar lange ondersoek onder leiding van ʼn voormalige FBI-agent – was dit Arnold van den Bergh wat moontlik Frank en haar gesin se skuilplek in Amsterdam aan die Nazi’s verklap het in ʼn poging om sy eie gesin te red.

Kenners het egter Dinsdag tydens ’n paneelbespreking in Amsterdam gekla dat die ondersoek uitsluitlik op hipoteses en ’n foutiewe interpretasie van die bronne gegrond is.

“’n Aantal prominente kenners het ’n kritiese verslag voorgelê oor die ondersoek wat in die boek beskryf word,” het Ambo Anthos laat Dinsdag in ’n verklaring gesê.

“Op grond van die gevolgtrekkings vervat in hierdie verslag, het ons besluit dat die boek met onmiddellike inwerkingtreding nie meer beskikbaar sal wees nie.

“Ons sal ’n beroep op boekwinkels doen om hul voorraad terug te gee. Ons wil weereens opreg verskoning vra aan almal aan wie die inhoud van hierdie boek aanstoot gegee het,” sê die uitgewery in sy verklaring.

Daar is al jare lank talle teorieë oor die Nazi-klopjag op 4 Augustus 1944 wat die geheime vleuel van die huis in Amsterdam, waar Anne en haar gesin twee jaar lank geskuil het, blootgelê het.

Anne en haar suster het in 1945 in die Bergen-Belsen-konsentrasiekamp gesterf, maar haar dagboek het sedertdien een van die aangrypendste vertellings van die Joodse volksmoord geword. Sowat 30 miljoen eksemplare van die boek is verkoop.

Maroela Media het vroeër berig die afgetrede FBI-speurder Vince Pankoke is in 2016 deur ʼn Nederlandse dokumentêre vervaardiger gevra om ʼn span te lei om ʼn deurbraak te maak in ʼn ou saak wat in twee vorige polisieondersoeke nie opgelos kon word nie.

Van den Bergh, wat in 1950 aan keelkanker dood is, se naam het vantevore bitter min aandag getrek. Dit het egter tydens Pankoke se ondersoek na die bokant van die lys van vier verdagtes geskuif nadat hedendaagse tegnologie, waaronder die gebruik van algoritmes om nuwe skakels tussen inligting te vind, ingespan is.

Die hoof van die Sentraal-Joodse Raad van Nederland het die ondersoek se bevindings as “uiters spekulatief en sensasioneel” beskryf.

Die Amerikaanse uitgewery HarperCollins het nog nie gereageer op ’n oproep deur Van den Bergh se kleindogter om die boek se internasionale verkope op te skort nie, het plaaslike media berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Lees die dagboek. Moontlik gratis op een van webtuistes. Daarin meld Anne dat een van die Nederlandse inwoners wat die Joodse gesin baie gehelp het se moeilike verloofde dalk kon vermoed het dat iets vreemds aan die gang is. So is daar baie moontlikhede maar om bloot te raai of te hoop dat die Jode mekaar ondergrawe het en dít na soveel jare is ‘n wilde kansvat met die oog op ‘n onsmaaklike swartsmeer-blitsverkoper.

Marthinus W ·

n Paar jaar gelede het Adriaan van Dis op Nederlandse TV [De Wereld Draait Door, met aanbieder Mathijs van Nieuwkerk] erken dat Nederland nog nie erken het dat baie van hulle gedurende die 2WO saam met die Duiters geheul het om die Jode te laat arresteer nie. Daar was ook n hofsaak, wat nou toegesmeer word, en enigeen wat daarvan praat word dadelik as anti-semiet geteiken, waar Anne Frank se oom eintlik die boek geskryf het; hy het aangedring op tantieme.

Treurwilger ·

Racheltjie de Beer was glo ‘n Amerikaner, so ek glo niks en niemand sonder bewyse nie. ;-)

Anne Frank se aangrypende verhaal moet tog nie óók bederf word nie, maar dit word nie noodwendig bederf deur hierdie boek se (moontlik foutiewe) ‘openbaring’ nie.
Wat daarvan as ‘n mede-Jood ‘n verraaier was? Daar was sekerlik baie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.