Omstrede Notre-Dame-ontwerp goedgekeur

Brand by die Notre Dame in April 2019. (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

ʼn Omstrede herontwerp van die binnekant van die Notre-Dame-katedraal in Parys is deur erfenisowerhede goedgekeur. Dit sluit moontlik straatkuns-installasies en sagter beligting in.

Kerk-owerhede hou vol die planne – wat deel vorm van ʼn groter herbouingsprojek ná ʼn verwoestende brand in 2019 – is nie revolusionêr nie en sal bloot ʼn hartliker verwelkoming bied aan besoekers.

Die veranderinge het egter kritiek uitgelok en ongeveer 100 bekendes het Woensdag hul name by ʼn meningstuk in die koerant Le Figaro gevoeg. Die besorgdes hou vol die ontwerp gaan die “dekor en godsdienstige ruimte” van die Gotiese katedraal ondermyn.

Dit het egter nie die 20 kenners van die Kommissie vir Nasionale Erfenis en Argitektuur van plan laat verander nie. Hulle het Donderdag ten gunste van die nuwe planne gestem.

“Die kenners het ʼn gunstige uitspraak gegee oor die binnenshuise opknappingsprogram,” het die ministerie van kultuur aan AFP gesê.

Die orrel tydens voorlopige werk by die Notre Dame-katedraal (17 Julie 2019) (Foto: Stephane de Sakutin/Pool via AP, File)

Hulle het ʼn paar voorwaardes gehad, waaronder om ʼn prototipe te sien van die nuwe banke (met hul eie ligte en ʼn meganisme om dit in en uit die vloer op te lig) wat die ou stoele sal vervang.

“Ons is baie tevrede met die besluit wat die breër beginsels respekteer wat ons uiteengesit het, insluitend die werk aan die beligting en begeleiding vir besoekers,” sê Vader Gilles Drouin, wat aan die hoof staan van die binnenshuise opknappingswerk.

Die wêreld het met skok verneem van die brand wat op 15 April 2019 uitgebreek het en ʼn groot deel van die dak en spits van die Notre-Dame verwoes het. Ongeveer 12 miljoen mense besoek jaarliks dié katedraal.

Die bisdom maak van die geleentheid gebruik om die binnekant op te knap voor die katedraal na verwagting in 2024 weer sy deure sal oopmaak.

Die ministerie van kultuur het aan AFP bevestig straatkuns-baanbreker Ernest Pignon-Ernest, asook moderne kunstenaars soos Anselm Kiefer en Louise Bourgeois, is deel van die name wat oorweeg sal word vir kuns-uitstallings wat van die 19de eeuse bieghokkies, wat selde gebruik word, sal vervang.

Ander idees sluit in Bybelverse wat in verskeie tale op die mure geprojekteer sal word en sagter beligting.

Een Parys-gebaseerde argitek het aan The Art-koerant gesê die gevaar bestaan dat dié erfenisbaken in “Disneyland” kan verander.

Kritici in Le Figaro versoek owerhede om die werk van Viollet-le-Duc te respekteer, die argitek wat die 12de eeuse katedraal in die 1800’s opgeknap het en om te hou by die Gotiese styl wat in daardie stadium ʼn herlewing beleef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Die ou katerdraal gaan beslis not- re-dame word… Eerder ‘n sirkus-cum-straatmark. Frankryk, soos die res van Europa, se toeriste is deesdae die tipe wat so hou van alles dat hul net daar hul tentjies opslaan, verkieslik naby ‘n fontein, om hul en hul wasgoedjies soggens in in te was en lg op die naaste standbeelde uit te hang om te droog.

Samuel ·

Wat ‘n sirkus gaan dit nie wees nie. God en opregte aanbidding is lankal uit hierdie katedraal verwyder. Dit is slegs ‘n godsdiensmuseum. Niks anders nie.

Maroelafonteiner ·

Ek sal nog met Kiefer en Pignon-Ernest se werke akkoord kan gaan, maar van Louise Bourgeois se werke is nie geskik vir ‘n kerkruimte nie. Van haar werke is net te kru om met ‘n godsdienstige ruimtes geassosieer te word, en in die lig daarvan is sy as kunstenaar ‘n twyfelagtige keuse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.