Omstrede Platini dalk volgende Fifa-baas

Argieffoto

Argieffoto

Die Fransman, en nou voorsitter van die Europese Sokkervereniging (Eufa), Michel Plantini, se naam word genoem as moontlike opvolger vir Sepp Blatter.

Plantini, tot onlangs ’n getroue vriend van Blatter, het Blatter se bloed laat kook toe Plantini hom gevra het om terug te staan as grootbaas van Fifa. “Genoeg is genoeg.”
Plantini was die voorsitter van die Franse Sokkervereniging toe Blatter hom in 2007 gehelp het om voorsitter van Eufa te word.

Plantini, wat ook ten gunste van Katar se kandidatuur vir die aanbied van die 2022-toernooi in dié woestynland gestem het, se rekord oor die uitbring van die stem is nie heeltemal skoon nie. Plantini het onlangs erken dat daar politieke druk op hom was om vir Katar te stem. Dit volg nadat die Franse regering, in ruil vir groot beleggings uit Katar, onderneem het om Plantini te beïnvloed om vir Katar te stem.

Trouens, by ’n presidensiële onthaal in die Elysée-paleis waar die emir van Katar teenwoordig was, is hy hiervoor geprys. Boonop het Plantini se seun ’n werk in Katar losgeslaan waarvoor hy ’n koninklike salaris verdien.

Ná Blatter se herverkiesing was dit duidelik dat Eufa nie vrede daarmee gemaak het nie, al het ses Eufa-lidlande, waaronder Spanje, vir Blatter gestem het. Een van die opsies waaroor in die media bespiegel is, was dat Eufa hul eie wêreldbeheerliggaam sou vorm en ’n eie wêreldbekertoernooi sou aanbied. Geldelik sou hierdie toernooi enige Fifa-toernooi, of wat dan van Fifa sou oorbly, in die skadu stel.

Intussen het die voorsitter van die Engelse voetbalvereniging, Greg Dyke, laat blyk dat Katar bekommerd moet wees oor sy aanbied van die 2022-toernooi omdat ’n herbesinning “werklik” is. Katar se sokkerbaas, sjeik Hamad Bin Khalifa Bin Ahmed Al-Thani het teruggekap en die Brit van vooroordeel oor die Midde-Ooste beskuldig. Hy het Engeland aangeraai om eerder die energie te gebruik om ’n span te bou wat in 2022 die potensiaal sal hê om in Katar as wêreldkampioen gekroon te word.

Saamgestel uit berigte in De Standaard en Trouw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.