Omstrede spandokter kry ‘doodsbevel’ vir molestering

Larry Nassar (Foto: Matthew Dae Smith/Lansing State Journal via AP)

ʼn Gesamentlike vonnis van bykans 300 jaar gevangenisstraf staar Larry Nassar, die omstrede Amerikaanse spandokter van die VSA se nasionale gimnastiekspan, in die gesig nadat hy vandeesweek gevonnis is vir die molestering van jong gimnaste.

Dié vonnis kom nadat meer as 265 vroue die sportdokter oor die afgelope paar maande van molestering beskuldig het. Meer as 200 vroue het volgens die BBC die afgelope paar weke “verdoemende getuienis” teen hom gelewer.

Nassar is onderskeidelik in Desember en Januarie tot 175 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die molestering van jong vroue – glo almal betrokke by die nasionale gimnastiekspan en die Michigan State-universiteit – en tot 60 jaar vir kinderpornografie. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy die vroue verkrag het onder die voorwendsel van mediese behandeling.

ʼn Storm het ook by die Amerikaanse gimnastiekliggaam losgebars ná talle getuienisse daarop gedui het dat sommige slagoffers om hulp gevra het by hoofde van die liggaam, maar deurlopend geïgnoreer is.

Nassar is Maandag in die Eaton County Circuit-hof in Charlotte tot ʼn bykomende 40 tot 125 jaar gevangenisstraf vir seksuele misbruik gevonnis.

Nassar, wat onder meer skuldig bevind is dat hy die gimnaste met sy hande gepenetreer het en dit as behandeling voorgehou het, het Maandag gesê dit is “onmoontlik om die diepte en breedte” van sy spyt en verskoning oor te dra aan elkeen wat by die saak betrokke is. Hy het gesê die beelde van “elkeen se getuienis” sal vir ewig in sy geheue geëts bly.

Regter Janet Cunningham het tydens haar vonnisoplegging gesê hoewel dit die einde van die hofverrigtinge is, is dit nie die einde van die “emosionele en fisieke lyding” wat hy die slagoffers besorg het nie.

Simone Biles (Foto: Instagram)

Cunningham, wat haar vonnis as Nassar se “doodsbevel” bestempel het, het nié sy verskoning aanvaar nie en gesê sy is nie oortuig dat hy “werklik verstaan” dat dit wat hy aan die slagoffers gedoen het, verkeerd was nie. “Ek is ook nie oortuig dat jy verstaan watter verwoestende invloed jou dade op jou slagoffers, hulle vriende en familie gehad het nie. Dit is duidelik dat jy dit ontken – jy verstaan eenvoudig nie,” het sy gesê.

Die Olimpiese gimnas Simone Biles, wat glo ook een van Nassar se slagoffers was, het Cunningham die afgelope naweek in ʼn onderhoud op The Today Show as haar “heldin” bestempel. Biles het gesê Nassar het nie meer “die vermoë om ons [die slagoffers] se vrede te steel nie”.

“Dis baie moeilik vir iemand om deur te maak wat ek die afgelope tyd deurgemaak het. Dit is veral baie moeilik om daaroor te praat. Die regter is egter my heldin, want sy het reg laat geskied en hom nie toegelaat om enige mag oor die slagoffers te behou nie. Sy het die slagoffers toegelaat om hul getuienis te lewer – en daar was baie krag daarin. Hy kan my nie meer seermaak nie,” het sy gesê.

Jessica Thomashow (17), ook ʼn Amerikaanse gimnas, het gesê Nassar het haar “onskuld misbruik”. “Jy was my dokter. Hoekom? Ek vra myself daardie vraag konstant. Wat jy aan my gedoen het, was verkeerd. Jy het my en my hele familie gemanipuleer. Hoe durf jy,” het sy tydens die verrigtinge gesê.

Annie Labrie, ook ʼn jong gimnas wat deur Nassar behandel is, het gesê sy is gedwing om die molestering van haar familie weg te steek. Labrie het gesê dit was van die begin af duidelik dat dit nie ʼn enkele geval is nie, maar dat hy ook ander gimnaste molesteer.

Die vonnisoplegging het volgens Time ʼn wyer kring as bloot gevangenisstraf vir Nassar. Volgens berigte is verskeie Amerikaanse gimnastiekgeleenthede oor die afgelope paar weke gekanselleer.

Gimnaste sal ook in die toekoms verbied word om alleen by oefeningsessies of geleenthede op te daag en moet deur ʼn volwassene vergesel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sjoe ·

Ek wil graag sien dat die owerhede en gimnastiekliggame by wie hierdie meisies gaan kla het OOK vervolg sal word. Dit is mos nou absoluut nonsens. Jy vertrou die dokter, die dokter misbruik jou, jy gaan gee dit aan by die volgende vorm van GESAG en jy word geignoreer. Nou word die dokter (met reg) vir ewig tronktoe gestuur maar diegene wat deeglik bewus was van die molestering en dit geignoreer het is hulle nie ook aandadig hieraan nie? Dra hulle nie ook skuld hieraan nie? Ek verstaan nie hoe sekere mense wegkom met alles nie. Wat ook vreemd is is dat vrouens so lank wag voordat hulle regtig iemand gaan aankla van seksuele molestering.. duidelik was hierdie ‘behandeling’ van dag een af verdag? … maar ja . dis net my opinie.

Ekke ·

Sjoe ek stem saam met al jou kommentaar behalwe: Dit is glad nie vreemd vir slagoffers om eers soveel soos 40+ jare na die die molestering dit aan te meld of daaroor te praat nie.
Die trauma is so oorweldigend dat hulle eenvoudig stilbly totdat die negatiewe effek ‘n verwoestende impak op hulle lewens, verhoudings en gesondheid het.

ontevrede leser ·

waarom kan dieselfde vonnisse nie ook in suid afrika geld nie?

PJC ·

Ontevrede leser ek stem saam met jou. Wat SA nodig het is sulke vonnisse sodat molesteerders, verkragters en moordenaars nooit weer op die publiek los gelaat kan word deur onbevoegde amptenare nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.