Ondersoek kom na boelie-bewerings in Britse paleis

Meghan Markle (Foto: Facebook)

Buckingham-paleis het Woensdag gesê gerugte dat Meghan Markle paleispersoneel geboelie het terwyl sy in Kensington-paleis gewoon het, sal ondersoek word.

The Times het oor die bewerings teen prins Harry se vrou berig, wat glo in Oktober 2018 plaasgevind het terwyl Meghan en Harry nog in die paleis gewoon het.

“Ons menslikehulpbronnespan sal die omstandighede ondersoek. Die personeellede wat destyds in diens van die hertog en hertogin van Sussex was, asook diegene wat die huishouding verlaat het, sal uitgenooi word om lig op die saak te werp,” het die paleis in ʼn verklaring gesê.

Buckingham-paleis het benadruk dat die koningshuis geensins boelies of teistering in die werkplek duld nie.

Meghan het vroeër gesê sy is “hartseer” oor die gerugte dat ʼn klag haar in die gesig staar ná haar verblyftydperk in die Kensington-paleis voordat sy haar aan die koninklike pligte onttrek het.

Prins Philip (Foto: Adrian Dennis, AFP)

Die berig kom enkele dae voor die uitsending van ʼn onderhoud, waarin prins Harry en Meghan met die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey gesels het oor hul besluit om verlede jaar hul koninklike pligte neer te lê.

“Sy is ontsteld en hartseer oor die jongste aanval op haar karakter, veral as iemand wat self die teiken van boelies was. Sy is vasbeslote om voort te gaan met die ontwikkeling van medelye wêreldwyd en sal voortgaan om ʼn voorbeeld te stel om te doen wat reg is,” het ʼn woordvoerder van Meghan gesê.

Dié egpaar het aangevoer The Times word in ʼn smeerveldtog teen hulle gebruik om ʼn “valse meesterverhaal” oor hulle te versprei voor die uitsending van dié onderhoud.

Hul onderhoud met Oprah, wat Sondag uitgesaai word, sal na verwagting die sluier verder lig oor die egpaar se skeuring met die koninklike familie.

Die jongste debakel volg op vrese oor Harry se oupa, prins Philip, se gesondheid. Die 99-jarige hertog van Edinburgh, wat met koningin Elizabeth getroud is, is Maandag na ʼn gespesialiseerde harteenheid oorgeplaas vir opvolgtoetse oor ʼn bestaande harttoestand. Prins Philip is reeds ʼn paar weke in die hospitaal en is aanvanklik vir ʼn onbekende infeksie opgeneem.

Camilla, hertogin van Cornwall, het Woensdag gesê sy toestand het “effens verbeter”, hoewel hy tans pyn ervaar weens sy jongste behandeling.

Harry en Meghan tydens die onderhoud met Oprah (Foto: skermgreep uit die video)

Sedert Harry en Meghan se verhuising na die VSA het hulle verskeie kommersiële ondernemings aangepak, waaronder winsgewende vennootskappe met die aanlyn platforms Netflix en Spotify.

Hulle het ook regstappe teen ʼn aantal mediapublikasies gedoen en beweer dat hul privaatheid gereeld geskend word. Die twee beskryf die media se druk in Brittanje dikwels as ondraaglik.

Ná ’n omvattende oorwinning in Februarie teen Associated Newspapers wat ʼn private brief gepubliseer het wat Meghan aan haar pa geskryf het, is Dinsdag £450 000 (sowat R9,5 miljoen) as tussentydse betaling van regskoste toegeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Matilda ·

Ag die ou tweetjies maak my siek! Lyk my hulle soek aandag om elke hoek en draai!

tweeling ·

Nou moet jou dan nie aan hulle steur nie, duidelik gee jy vir hulle aandag.

Mariana ·

Ek sal nogal kan glo dat sy ‘n boelie is. Die Harry laat hom aan sy neus rondlei. Als klink na geldmaak, dagvaar die wêreld want as jy jouself in die publieke oog sit moet jy nie kla as jou privaatheid daaronder ly nie. Sy hou van al die publisiteit en koninklike sal sy nooit wees nie.

JohanR ·

Wonderlik wat die een al kon reg kry sedert die trou dag……moenie jou rug op haar draai nie!

annie ·

Queen Megan has spoken… En so het slim sy baas gevang. Daar was ‘n queen Charlotte in Brittanje (lees oor haar plus foto) voor konigin Victoria. Glo via Duitsland uit Afrika. Uiteindelik wou die koning haar uit haat en wroeging vermoor. Sy het glo haar laaste dae in ‘n stoel gesit-slaap uit vrees vir hom. Hoekom? Lees self.

Elize ·

Sy het presies geweet waarin sy haar begewe. Miskien moes sy Hollywood nooit verlaat het nie. Om ‘n koninklike te wees is nie toneelspel nie. Jy moet dit leef. Miskien het sy nie ingepas nie.

Rentia ·

Hemel, vir mense wat nie van die media hou nie is die twee darem gedurig in die media. Harry, jy is gebore in die kollig. DEAL DAARMEE!! Het jou ma iemand grootgemaak wat weghardloop as die water warm raak? Megan soek aandag, soos ons almal weet. Noudat die aandag af is van die twee, is die lewe darem net te saai, so elke nou en dan word iets gegooi media toe.

Plaaskind ·

Hmmm – die vroumens gee my ‘n pyn, hoop sy kry haar dag, vat haar vas Queenie.

Anel ·

Dit is srker die rede hoekom sy die arme Harry verplig het om die ryk te verlaat. Jessibelle!!

Keith ·

Who cares ? The Brits did far worse than that here in South Africa, and they still haven’t been held accountable for their war crimes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.