Ondersoek na Tiger Woods se ongeluk afgehandel

Die ongelukstoneel. (Foto: Patrick T. FALLON/AFP)

Die ondersoek na die oorsaak van die gholfkampioen Tiger Woods se motorongeluk in Februarie is afgehandel en polisie het die oorsaak van die ongeluk vasgestel. Polisie weier egter om besonderhede rondom die ongeluk bekend te maak.

“Die ondersoek is voltooi en die oorsaak van die ongeluk is bepaal,” het die sheriff Alex Villanueva Woensdag aan verslaggewers gesê. Hy wou egter nie sê watter data in die voertuig se “swartboks” gevind is nie en het gesê Woods se toestemming moet eers verkry word voordat ondersoekers inligting oor die ondersoek bekend kan maak.

Woods is ernstig beseer toe sy motor vroeg die oggend van 23 Februarie die pad net buite Los Angeles verlaat en verskeie kere gerol het. Wetstoepassingsbeamptes het ʼn paar dae later gesê hy het nie roekeloos bestuur nie, maar kan wel van minder ernstige oortredings aangekla word. Dié uitlatings is egter later as “voortydig” gekritiseer.

ʼn Lasbrief is later uitgereik om inligting op die sogenaamde swartboks in Woods se motorwrak te kry. Die polisie wou egter nie ʼn bloedmonster van Woods bekom nie, het Maroela Media destyds berig.

Greg Risling, ʼn woordvoerder van Los Angeles se staatsaanklaer, het Woensdag in ʼn e-pos aan CBS News gesê wat die ongeluk betref is geen klag van misdaad of wangedrag teen Woods by sy kantoor aanhangig gemaak nie.

Joseph Giacalone, ʼn professor in kriminele reg aan die John Jay-kollege en afgetrede sersant in die New York-polisiedepartement, meen egter dis vreemd dat die polisie Woods se toestemming nodig het om hul bevindings bekend te maak. “Ek dink nie ek het al ooit gesien dat ʼn polisiedepartement vir soortgelyke toestemming vra nie. Owerhede sou beslis nie die toestemming van slagoffers gevra het indien hulle nie beroemdes was nie,” berig ABC News.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.