Ondersoekers onttrek weens gevaar van MH17-ramptoneel

Foto: ʼn Wrakstuk van Vlug MH17 Foto: Dominique Faget/AFP/Getty Images

Foto: ʼn Wrakstuk van Vlug MH17 Foto: Dominique Faget/AFP/Getty Images

Die span ondersoekers onder die leiding van Nederland is Woensdag weens die gevaarlike situasie van die ramptoneel van Vlug MH17 onttrek. Die span wat uit Nederlanders, Australiërs en Maleisiërs bestaan, het eers enkele dae gelede die ramptoneel die eerste keer kon bereik.

Die nuus oor die onttrekking is deur die Nederlandse premier, Mark Rutte, bekend gemaak.

Die wrakstukke lê in ‘n strategiese strook in rebellebeheer in die ooste van Oekraïne. Sou Oekraïne die strook kan beset, sou dit die vernaamste stede onder rebellebeheer isoleer. ‘n Groot besending persoonlike besittings wat op die ramptoneel herwin is, word Donderdag in Nederland verwag.

Intussen het die Europese Organisasie vir Veiligheid en Samewerking, waarvan Rusland ook deel is, laat weet dat dit graag toekomstige ondersoekspanne op die toneel sal wil bystaan. Die OVSE het daarop gewys dat dit reeds ‘n belangrike rol in die ondersoek wat nou afgelas is, gespeel het.

Intussen laai spanning weer op nadat Rusland, volgens Navo, 20 000 troepe na die grens met Oekraïne gestuur het. Pres. Wladimir Poetin is onder enorme binnelandse druk om die rebelle te hulp te snel. Rusland het Oekraïne ook by die VN verkla oor die rampsalige toestande wat onder die burgers in die meeste van die oorblywende rebellevestings heers. Groot dele van die stede sit sonder elektrisiteit en dikwels sonder noodsaaklike lewensmiddele. Watertoevoer is dikwels erg beperk. Baie inwoners het uit die gebied gevlug.

Na berig word voer die rebelle – wat ook uit Russiese “vrywilligers” bestaan – ‘n skrikbewind teen die inwoners van die gebiede onder hul beheer.

Pres. Barack Obama het aangedui dat Rusland se ekonomie “tot stilstand gekom het” weens die sanksies wat Europa en die VSA ingestel het. Rusland het teruggekap deur ‘n verbod in te stel op die invoer van vrugte en groente uit lande wat aan die sanksies meedoen. Rusland se sentrale bank het egter reeds gemaan dat hierdie verbod daartoe kan lei dat die reeds hemelhoë Russiese inflasie verder die hoogte kan inskiet en die ekonomie verder kan skaad.

Bronne: The Telegraph, Trouw, De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Ai tog – dat geweld en rebelle nou in die pad kan staan van ‘n ondersoek wat nie net aanvaarding en berusting by familie en vriende kan bring met die opspoor van alle persoonlike items nie, maar ook in die pad staan van uitvind hoe en wat en waar presies gebeur het. Hoe dom kan die mens tog nie optree nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.