Ondersoekers vind ‘swart boks’ ná vliegtuig in see val

Owerhede ondersoek dele van die Lion Air-vliegtuig wat in die see gevind is (31 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Tatan Syuflana

Duikers het die “swart boks” van die Lion Air-vliegtuig gevind wat Maandagoggend in die see naby die Java-kus van Indonesië neergestort het.

Dié vonds is ʼn deurslaggewende ontdekking in die ondersoek na die voorval om owerhede te help om te bepaal hoe ʼn byna splinternuwe vliegtuig onverwags uit die lug neergestort het in een van die ergste kommersiële vlugrampe in afgelope jare.

Duikers het Donderdagoggend die helderoranje vlugopnemer sowat 30 m onder water gevind naby die kus van Djakarta. ʼn Vliegtuig het twee vlugopnemers, een wat die vlugdata vasvang en nog een wat die vlieënier en sy medevlieënier in die kajuit opneem.

“Hierdie is waarskynlik die opnemer wat die vlugdata opneem,” het Bambang Irawan, ʼn ondersoeker van Indonesië se nasionale vervoerveiligheidskomitee, gesê. “Ons soek nog na die stemopnemer.”

Owerhede ondersoek dele van die Lion Air-vliegtuig wat in die see gevind is (31 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Tatan Syuflana

Die vliegtuigongeluk het kenners tot dusver laat kopkrap terwyl hulle probeer verstaan wat veroorsaak het dat die vliegtuig neergestort het net 13 minute nadat dit by die lughawe in Djakarta opgestyg het. Die vliegtuig het die see met soveel spoed en krag getref dat nie een enkele slagoffer ongeskonde gevind is nie.

Al 189 mense wat op die vliegtuig was ten tyde van die ongeluk, het gesterf. Duikers het Woensdag begin om families van die oorledenes na die toneel te bring om items wat aan hul naasbestaandes behoort wat uit die see gebring is te identifiseer. Die items het ID’s, beursies en selfs ʼn skoen ingesluit.

Van die oorledenes se oorskot is ook gevind en uit die water gebring, maar die meeste sal deur middel van forensiese toetse geïdentifiseer moet word.

Op die vlugopnemer te vind – wat soms jare vat om op te spoor en soms nooit gevind word ná ʼn vliegtuigongeluk nie – is noodsaaklik om die laaste oomblikke voor die vliegtuig neergestort het uit te pluis.

Reddingswerkers bestudeer wrakstukke wat in die see gevind is en vermoedelik van die Lion Air-vliegtuig afkomstig is. Foto: BNPB via AP

Die Lion Air-vliegtuig, ʼn Boeing 737 Max 8, was Maandag op pad na Pangkal Pinang toe die ongeluk gebeur het. Net ʼn paar minute nadat die vliegtuig opgestyg het, het die vlieënier toestemming gevra om terug te draai na die lughawe en die versoek is toegestaan.

Radar-data toon die vliegtuig het al hoër gevlieg waarna dit rukkerig hoogte verloor het en sy spoed skielik dramaties versnel het voordat kontak met lugverkeerbeheerders verloor is.

Budi Karya Sumadi, Indonesië se minister van vervoer, het gesê tien Boeing 737 Max 8-vliegtuie wat deur Lion Air bedryf word een wat deur die Garuda-redery bedryf word, is verbied om vir vlugte gebruik te word terwyl hulle geïnspekteer en evalueer word deur die vervoerveiligheidskomitee. Hy het gesê die uitslag van die evaluasie sal later bekendgemaak word.

Sy departement het Lion Air ook gevra om die lisensies van verskeie beamptes, insluitend die redery se instandhoudingsdirekteur, ingenieursdirekteur en vlugbeheerdirekteur, op te skort terwyl die ondersoek aan die gang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DS ·

Penelope Jones volgens my kennis het die swartboks (vlugopnemer) al die meganiese en vlug inligting van vliegtuig op soos hoogte verloor of enjin wat moeilikheid gegee het ens ens ens. Hulle soek die stemopnemer wat geluide in die kajuit opneem sodat hulle laaste gesprekke ook kan hoor. Ja so volgens my beperkte kennis 2 verskillende dinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.