Onderwyseres (29) sterf 3 dae ná troue

Katie en Will op hul troudag. Foto: Dailymail.co.uk.

ʼn Laerskoolonderwyseres (29) van Essex in Engeland is drie dae ná haar troue dood aan dermkanker.

Will Arnold, Katie Sutterby se man, vertel terminale kanker is in Augustus vanjaar by haar gediagnoseer.

Dailymail berig dokters het haar ná toetse in kennis gestel haar kanker is terminaal en dat sy net maande of op die meeste ʼn jaar oor sal hê om te leef.

“Ek was van plan om haar later in die jaar te vra om te trou, maar toe ons hoor die kanker is terminaal en het reeds na haar lewer versprei, het ons besluit om dit dadelik te doen,” het Arnold gesê.

Hy het bygevoeg dat Sutterby baie lief was vir oefen en hardloop en baie gesond gelewe het. Daar was glo te veel gewasse om dadelik te begin opereer en dokters het besluit om eers chemoterapie toe te pas om die gewasse te krimp. “Teen dié tyd het sy al fisieke simptome begin wys. Haar bene was geswel en sy het geelsug gekry,” het Arnold vertel.

Katie Sutterby. Foto: Dailymail.co.uk.

Die troue is binne twee weke gereël. “Sy het so mooi gelyk. Ek het nie gedink sy sou so lank kon uithou nie, maar sy het die hele aand gedans en met almal gesels,” het Arnold vertel.

Die egpaar het vir twee dae by ʼn spa gaan wittebrood hou, maar Katie is met hul aankoms tuis by die Farleigh Hospice oorlede.

Arnold, Katie se suster en ʼn vriend hardloop Sondag die Royal Parks-halfmarathon om te help om geld in te samel vir dermkankerbehandeling en -navorsing.

“Ons het altyd saam na musiekfeeste toe gegaan. Sy was so lewenslustig en pragtig; ek is so trots om haar my vrou te kan noem. Ons almal was so lief vir haar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Blommie ·

Dit wys net ware liefde beteken presies dit!! 1 Korintiërs 13 vers 4-7. Mag die Here haar man vertroos.

Oorstelp ·

Ek is oorstelp. Wat kan ek sê. Kanker het ook my maat weggeroof maar darem na 50 jaar wat ook soos gister voel.

MM ·

Ag dis so tragies – en dankie vir jou dat jy haar laaste dae so wonderlik gemaak het – Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.