Onduidelikheid oor wie Al Jazeera-joernalis doodgeskiet het

Die veteraan joernalis Shireen Abu Akleh is Woensdag in Jenin doodgeskiet. (Foto: AFP)

Die tussentydse bevindinge van ’n ondersoek wat deur die Israeliese weermag gelas is, kon nog nie bepaal wie die koeël afgevuur het wat Shireen Abu Akleh (51), ’n Al Jazeera-verslaggewer, in die stad Jenin in die noordelike Wesoewer noodlottig gewond het nie.

Akleh is Woensdag tydens ’n Israeliese aanval in dié gebied doodgeskiet.

Haar kollega, Ali Samoudi, is in die rug geskiet. Die konflik tussen Israel en Palestina woed al jare voort.

Luidens die weermag se verslag toon die ondersoek twee moontlikhede vir die bron van die koeël wat Akleh getref het en dit sal deur ’n professionele ballistiese ondersoek bevestig word.

Die verslag dui op een moontlikheid dat die koeël van die wapen van een van die talle Palestynse gewapende mans kon gekom het. Die ander opsie is dat een van die Israeliese soldate tydens die skietgeveg ’n paar koeëls vanuit ’n Jeep afgevuur het en Akleh in die proses getref het.

Israel en die Palestyne beskuldig mekaar van die noodlottige skietery.

Israel het ’n gesamentlike ondersoek gevra en die noodsaaklikheid beklemtoon dat Palestynse owerhede die koeël wat Akleh noodlottig gewond het vir forensiese ondersoek moet oorhandig.

Die Palestynse owerheid het die voorstel van ’n gesamentlike ondersoek met Israel verwerp en gesê Israel is “geheel en al verantwoordelik” vir haar dood.

Die Israeliese weermag het gesê hulle sal voortgaan om die voorval met al sy beskikbare middele te ondersoek, en betreur die afwesigheid van die sleutelbewys wat kan bepaal of dit ’n Israeliese soldaat of Palestynse militant was wat die koeël afgevuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

AFP is n onbetroubare bron van inligting. Akleh is deur n Israelse militere sluipskutter vermoor. Dis iets wat die Israelites al jare lank doen met joernaliste wat Israelse kriminele dade openbaar. Akleh was in die teenwoordigheid van 3 Ander joernaliste, een waarvan ook in die rug geskied is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.