Ongekende geweld in Ysland

(Foto: Bbwm11, eie werk via Wikimedia Commons)

Ysland is lank beskou as die “mees vreedsame land in die wêreld”, maar dié stilte is versteur deur ʼn rits skietvoorvalle en mes-aanvalle deur bendes.

Die land, met slegs 375 000 inwoners, is gewoond daaraan om eerder oor moord te lees in die bekende Yslandse noir-boeke as in sy koerante.

“Vir Yslanders simboliseer ʼn vuurwapen sport of jag,” sê sosioloog Helgi Gunnlaugsson. “Dit is baie vreemd vir mense in Ysland dat mens ʼn wapen gebruik om jouself mee te beskerm of om dit op ander mense te rig,” het hy aan AFP gesê.

Ysland is sedert 2008 bo-aan die Wêreldvrede-indeks danksy lae misdaadsyfers, goeie opvoeding en welvaartstelsels, regverdige salarisse en ʼn afwesigheid in spanning tussen maatskaplike klasse.

In meer as twee dekades is slegs vier mense doodgeskiet. Vier skietvoorvalle het egter nou in binne net meer as ʼn jaar plaasgevind, waarvan een noodlottig was.

ʼn Man is in Februarie 2021 buite sy huis in ʼn buurt in die hoofstad Reykjavik doodgeskiet. Dié moord het die land geskok gelaat. Die polisie het gesê die moord word verbind met georganiseerde misdaad.

“Kriminele groepe in Ysland word al hoe meer georganiseerd,” sê kriminoloog Margret Valdimarsdottir. “Hulle het meer band met internasionale groepe as wat ons vantevore gesien het, en dit kan ʼn uitdaging wees vir ons polisiemag.”

Twee afsonderlike dwelmverwante skietvoorvalle het in Februarie binne twee dae in Reykjavik plaasgevind, waarvan een in die middestad. Die bendegeweld is soortgelyk aan dit wat in ander dele van Europa gesien word.

“Dit neem ongeveer vyf tot 10 jaar vir wat in Europa gebeur om in Ysland plaas te vind,” sê Runolfur Thorhallsson, superintendent van Ysland se elite polisie-eenheid, bekend as die “Víkingasveitin” (Wiking-span). “Dit is natuurlik ʼn groot kommer vir ons.”

Ysland is een van die min lande in die wêreld waar die polisie nie gewapen is in hul daaglikse pligte nie. Patrolliemotors word egter sedert laat 2015 met vuurwapens toegerus wat in spesiale kluise toegesluit is. Dit het gevolg ná die bloedige aanvalle deur die ekstremis Anders-Behring Breivik in Noorweë in 2011. Slegs ʼn klein getal polisiebeamptes, die Víkingasveitin, is permanent gewapen met semi-automatiese wapens, koeëlvaste baadjies en ballistiese skerms. Dié eenheid ondersteun die polisie wanneer wapens aangemeld word. Dié voorvalle het sedert 2014 byna sesvoudig toegeneem.

“Ons sien tekens dat mense minder huiwerig is in die kriminele wêreld om wapens te gebruik. Ons sien ʼn toename in messe eerder as vuurwapens,” voeg Thorhallsson by.

Alhoewel hy nie ʼn verduideliking gee vir die toename in geweld nie, oorweeg die minister van binnelandse sake nou om polisiebeamptes met skokstokke toe te rus.

Die hoof van die polisievakbond, Fjolnir Saemundsson, het die idee verwelkom, maar versoek meer beamptes en beter opleiding.

Met 682 polisiebeamptes in 2021 het Ysland, naas Finland, een van Europa se kleinste polisiemagte in verhouding tot sy bevolking. Dit is byna die helfte van die Europese gemiddeld, aldus die EU-statistieke-agentskap Eurostat.

Studlar, ʼn regeringsbeheerde sentrum vir jeugdiges tussen 12 en 18, help jongmense met probleme wat strek van dwelmmisbruik tot misdaad en ander gedragsprobleme.

Direkteur Funi Sigurdsson sê hy het ook ʼn effense toename in gewelddadige voorvalle gesien en die sentrum moet al hoe meer beslag gelê op messe. Hy sê met sommige van die jongmense is dit “selfs wanneer hulle maar ses jaar oud is” duidelik dat hulle uiteindelik hier sal opeindig. “As ons destyds al kon ingryp, is dit moontlik dat ons kon verhoed dat hulle in dié situasie beland.”

Verskeie van diegene wat in bendebedrywighede betrokke raak, was as jeugdiges in die sentrum.

Alhoewel die toename in gewelddadige misdaad kommer veroorsaak, is die situasie nog nie kommerwekkend nie, sê kenners. “Dit is belangrik om in gedagte te hou dat Ysland steeds ʼn land is met ʼn uiters lae misdaadkoers,” het Valdimarsdottir gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leeuwyfie ·

Sal ons die ding op sy naam noem? Sal die Yslanders ook uiteindelik tot die besef kom? Hoe lank sal die Yslanders nog hul meerderheid behou? Ek meen London se mees gewildste seuntjie baba naam is Mohammed. Ek hoop die Yslanders skrik wakker. Mense is besig om uit te sterf in hul eie land, want hulle beplan 1 tot 2 kinders, terwyl hulle verplaas word met immigrante wat kinders kry by dosyne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.