Ongekende vlakke van winkeldiefstal teister Britse kleinhandelaars

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Britse kleinhandelaars het die regering se hulp ingeroep ná ’n ongekende aantal diefstalle asook voorvalle van geweld deur kriminele bendes, dwelmverslaafdes en mense wat onder die lewenskostekrisis gebuk gaan.

“Winkeldiefstal is ’n daaglikse verskynsel en soms gebeur dit meer as een keer per dag,” sê Pravin Kharel (28), bestuurder van ’n Sainsbury’s-supermark in Londen. Kharel skat dat verliese aan sy winkel ongeveer £250 (sowat R5 823) per week beloop.

Die British Retail Consortium (BRC) sê winkeldiefstal het vanjaar met 27% toegeneem in tien van die land se grootste stede. Dit is ’n verskynsel wat ook Amerika en Frankryk raak, wat in 2022 ’n styging van 15% ervaar het.

Met die situasie in Engeland was die BRC genoop om die hulp van die polisie en plaaslike burgemeesters in te roep om kleinhandelwerknemers te beskerm.

’n Totaal van 88 hoofde in Brittanje het gesamentlik aan die regering geskryf en maatreëls geëis om die vlaag van misdaad in hul winkels te pak. Dit sluit in hoofde van die supermarkreus Tesco, Boots, ’n gesondheid- en skoonheidshandelaar en apteek, en die skryfbehoefte-onderneming, WHSmith.

Die meeste groot kleinhandelaars het by slegs sommige van hul winkels sekuriteitswagte teenwoordig.

Vleis, alkohol en soetgoed

Die Vereniging van Geriefswinkels sê supermarkdiefstalle het verlede jaar in die Verenigde Koninkryk ’n rekordhoogtepunt bereik met 1,1 miljoen voorvalle in 33 500 winkels.

Die items wat die meeste gesteel was, was vleis, alkohol en soetgoed.

Volgens die vereniging se jongste misdaadverslag glo 79% van verteenwoordigende kleinhandelaars dat die lewenskostekrisis ’n toename in diefstal veroorsaak het.

Die jaarlikse inflasie in Brittanje van 6,7% bly die hoogste in die G7-groep nadat energie- en voedselpryse gestyg het.

Klante het gewoond geraak aan teendiefstal-plakkers wat op items soos vleis geplak word.

Die Co-op-ketting van geriefswinkels het rekordvlakke van misdaad in die eerste helfte van vanjaar ervaar, met sowat ʼn 1 000 voorvalle van winkeldiefstal en ander antisosiale gedrag per dag.

Party apteke het grimeermiddelprodukte van hul rakke verwyder om voortdurende diefstal te verhoed.

By ’n Boots-winkeltak het ’n AFP-joernalis waargeneem hoe ’n man lipstiffies en naelpolitoer in ʼn sak sit voordat hy die winkel verlaat het, sonder om vir die items te betaal.

Honderde mense het in Augustus voor die JD Sports-winkel in Londen saamgedrom nadat wyd gedeelde plasings op Snapchat en TikTok volgelinge aangemoedig het om deel te neem aan ’n reuse-gekoördineerde daad van winkeldiefstal.

Verskeie winkels het deure afgesper en struwelinge het tussen lede van die publiek en die polisie uitgebreek, wat tot nege inhegtenisnemings gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dries ·

Neewat, hulle sal heelwat moet verbeter om SA te ewenaar. Ek is in besigheid en praat van ondervinding.

Marcha ·

Lewe druk vir almal, mense kan nie meer basiese noodsaaklikhede bekostig nie, dinge gaan net vererger.

Marthinus W ·

Hulle ekonomie sukkel omdat hulle nie meer goedkoop Russiese energie ontvang nie, hul regering is ook nie watwonders nie, waardevolle geld stroom na Oekraine, en: Britse polisie ignoreer alle diefstalklagtes wat minder as 200 pond is.

Anna-marie ·

Dit is hoekom Poolse en Hongaarse leiers vir die Boelies in Brussels sê: Dankie maar nee dankie, ons soek nie die mense in ons land nie.

Vriendelike Frikkie ·

Ons Polisie ignoreer alle klagtes van roof en poging tot roof. Praat uit ondervinding. Persoon op straat beroof. Polisie weier om saak te maak, want “we did not see it happen”…

Papsak ·

Dinge gaan nog veel vererger kan nie anders nie kyk waar staan lewenskostes

Johan Botha ·

S A se treurmare het viervoudig vererger met die invloei van immigrante(wettig en onwettig).

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.