Ongeluk eis 9 kinders in stormagtige Alabama

Die ongelukstoneel op Interstate 65 in Alabama, VSA. (Foto: Chris Horn/Facebook)

Nege kinders en een volwassene is die naweek dood toe verskeie motors in ’n gru-ongeluk op ’n hoofweg in die Amerikaanse deelstaat Alabama betrokke was. Die tragiese ongeluk het te midde van hewige storms in die suidooste van die VSA plaasgevind.

Tropiese storm Claudette veroorsaak van Saterdag af swaar reën oor die suidooste van die VSA. ’n Jong pa (24) en sy driejarige seuntjie is intussen ook dood toe ’n boom op hul huis geval het.

Gru-ongeluk op snelweg

Minstens 15 voertuie was Saterdag by die ongeluk op Interstate 65 naby die stad Greenville betrokke. Die voertuie het vermoedelik op die nat pad gegly weens stortreën in die omgewing, het Wayne Garlock, lykskouer in Butler County, aan AFP gesê.

Die gebied is glo veral berug vir voorvalle van dié aard, aangesien Interstate 65 teen ’n steil heuwel ondertoe kronkel.

’n Pa en sy nege maande oue baba, wat in ’n sportnutsvoertuig gery het, en agt kinders in ’n bussie – almal tussen vier en 17 jaar oud en afkomstig van ’n oord vir verwaarloosde en mishandelde meisies –  is in die ongeluk dood.

Volgens ooggetuies op die toneel kon ’n omstander daarin slaag om die bestuurder van die bussie uit die brandende wrak te trek. Die omstander het toe probeer om die kinders te help, maar vlamme wat die bussie verswelg het, het dit onmoontlik gemaak, het Garlock gesê.

Plaaslike sheriff Danny Bond het die ongeluk as “waarskynlik die aakligste ongeluk in die geskiedenis van Butler County” bestempel.

Die bestuurder van die bussie is intussen geïdentifiseer as Candice Gully, direkteur van die oord vir meisies in Tallapoosa County.

Die bestuurder van die sportnutsvoertuig is geïdentifiseer as die 29-jarige Cody Fox. Sy verloofde is ook in die ongeluk beseer.

Tropiese storm Claudette

Tropiese storm Claudette sal na verwagting vandag nog oor die ooste van Noord-Carolina woed voordat die storm teen Dinsdag sal begin verswak.

Tot dan voorspel die Nasionale Orkaansentrum verdere oorstromings. Dít terwyl talle paaie en woongebiede reeds oor die naweek oorstroom het en mense in hul motors vasgekeer was.

USA Today berig Claudette het stormsterk winde in dele van Alabama, Mississippi en Georgia meegebring, wat dakke van huise afgeruk het. ’n 18-wiel-voertuig en ’n mobiele huis is omgewaai terwyl verskeie tornado’s aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elinette ·

Sê wat jul wil, “the end is near” … eers buitengewone hoë temperature in sekere dele van die VSA, aardbewings en meegaande tsunami’s (oor die afgelope paar jaar), verwoestende veldbrande in Australië (oor die afgelope paar jaar), aardverwarming, smeltende gletsers en stygende seevlakke, vulkaniese uitbarstings soos nog nooit gesien nie (Hawaii), die uitbreking van ‘n internasionale pandemie (COVid-19 en hoender/varkgriep) ….

Estelle ·

Ek stem 100%saam met jou. Dit help nie ons probeer onsself flous nie. Ons moet ons sake in orde kry.

Vicky ·

Dit gaan al honderde jare so,al verskil is dat ons nou tegnologie het wat ons in lig. Die wèreld sou al vrrgaan toe ons bang gepraat was in die ’70….
Ons wag nogsteeds.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.