Onnie tydens terreuraanval in Frankryk onthoof

Police Nationale, Frankryk se polisie (Foto: Police Nationale/Facebook)

Nege persone is Saterdag in aanhouding ná ʼn onderwyser in die publiek in Parys in Frankryk onthoof is, het die staatsaanklaer van die anti-terrorisme-kantoor Saterdag aan dpa-nuusagentskap gesê. Die persoon het nie uitgewei nie.

Die vermeende oortreder is kort ná die misdaad deur die polisie doodgeskiet. Aldus die Franse uitsaaier BFMTV het getuies gesê die man het “Allahu akbar” (“god is groot”) geskree voor hy doodgeskiet is.

Volgens berigte is sommige van die persone wat in hegtenis geneem is, lede van die vermeende oortreder se familie.

Die onderwyser is Vrydagmiddag in die publiek in Conflans-Sainte-Honorine onthoof.

Pres. Emmanuel Macron het Vrydagaand die toneel besoek, maar het geen besonderhede verskaf in ʼn kort verklaring nie.

Ondersoekbeamptes sal na verwagting Saterdag verder kommentaar lewer.

Die anti-terrorisme-speurders het die ondersoek oorgeneem.

Macron het dit as ʼn “Islamitiese terreurdaad” beskryf. Die Franse president het sy ondersteuning aan onderwysers toegesê en gesê die feit dat ʼn onderwyser aangeval is, is nie toevallig nie. Hy noem dit ʼn aanval op Franse waardes.

Die verdagte was ʼn 18-jarige Tsjetsjniër wat in Moskou gebore is. Volgens die adjunkminister van binnelandse sake, Marlene Schiappa, was hy nie voorheen bekend aan geheime dienste nie.

Gerugte oor die motief doen die rondte in Frankryk. Die onderwyser het vermoedelik karikature van die Moslemprofeet Mohammed in ʼn klas gewys tydens ʼn gesprek oor vryheid van uitdrukking. Daar was ongelukkigheid by die skool en die onderwyser is gedreig, het Franceinfo berig.

Die pa van ʼn 13-jarige het aan France Inter gesê die onderwyser het vooraf Moslem-leerders gevra of hulle die klas wou verlaat voor hy die prente gewys het. Die onderwyser “was nie neerhalend of oneerbiedig” nie.

Die verdagte het glo ná die misdaad oor die moord op die onderwyser gespog.

In 2015 en 2016 is meer as 230 persone dood tydens ʼn rits aanvalle in Frankryk, hoofsaaklik deur die Islamitiese Staat. Verdagtes wat verbind is met die aanvalle in Januarie 2015, waar 17 mense by die kantoor van die Charlie Hebdo– satiriese tydskrif en ʼn supermark doodgeskiet is, verskyn ook tans in die hof in ʼn saak wat na verwagting nog tot middel November sal voortduur.

Charlie Hebdo, wat ʼn paar weke gelede weer onder ʼn aanval deurgeloop het oor ʼn tekenprent van Mohammed, het sy gevoelens van “gruwel en veragting” op Twitter uitgespreek oor die onderwyser se moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

groenboer ·

Ja, mens moet maar versigtig wees watse immigrante jy in hul duisende in jou land laat instroom, maar die Europeërs wil mos nou vir die hele wêreld wys hoe liberaal hulle is…

Cornelius ·

Ek is bevrees Europa met sy toenemende Islamitiese bevolking en afname in wit geboortes is in groot moeilikheid.

Kruger ·

Te laat. Oor 20j is Europa totaal islamities agv hulle getalle aanwas. Arafat het gese dat Europa sonder oorlog gevat gaan word net deur getalle….kyk UK London het klaar islam burgemeester….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.