Onrus lei tot politieke krisis in Noord-Ierland

(Foto: Paul Faith/AFP)

Betogers en die polisie was Donderdagaand vir die soveelste keer die week weer slaags in Belfast, Noord-Ierland, met betogers wat petrolbomme gegooi en die polisie wat waterkanonne ingespan het.

Honderde jong mans het van vroegaand af saamgetrek in ’n westelike woonbuurt in die hoofstad van Noord-Ierland, wat geknou word deur geweld oor onder meer Brexit en binnelandse politiek.

Die betogers het klippe, bakstene en glasbottels na die polisieversperrings gegooi. Onluste-polisiebeamptes het waterkanonne gebruik om die oproeriges onder beheer te probeer bring.

Die onrus het reeds verlede week begin met spanning wat oplaai weens nuwe post-Brexit-reëls wat volgens sommiges die streek van Brittanje verdeel.

Die afgelope paar dae se onrus het hoofsaaklik vanuit die lojalistegemeenskap gekom wat wil hê dat Noord-Ierland deel van die Verenigde Koninkryk moes bly. Die lojaliste en nasionaliste, wat ’n verenigde Ierland wil hê, het ook gereeld die afgelope paar dae slaags geraak.

Tientalle mense is reeds tydens die onluste beseer. Jonathan Roberts, waarnemende hoofkonstabel van die Polisiediens van Noord-Ierland (PSNI), het gesê die omvang en aard van die geweld is ongekend vir die afgelope paar jaar.

(Foto: Paul Faith/AFP)

“Die feit dat dit sektariese geweld is en daar groot groepe aan albei kante is … is iets wat ons vir ’n aantal jare nie gesien het nie,” het hy aan verslaggewers gesê.

Volgens Roberts is kinders van so jonk as 13 jaar oud ook by die onluste betrokke en word hulle vermoedelik deur volwassenes aangemoedig om deel te neem. Die groot aantal petrolbomme wat gebruik word, dui op ’n mate van voorafbeplanning, het Roberts gesê.

Die toenemende onrus het ’n politieke krisis in Noord-Ierland veroorsaak. Die Britse premier Boris Johnson, sy Ierse eweknie Micheál Martin en die Amerikaanse president Joe Biden het almal ’n beroep op kalmte gedoen.

Die PSNI ondersoek die moontlikheid of Noord-Ierse paramilitêre groepe by die onrus betrokke is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andries

En hier begin die bakleiery alweer.