Ons is eintlik marsmannetjies – wetenskaplike

Steven Benner“Die bewyse dat lewe op aarde op Mars, en nie op die aarde ontstaan het nie, stapel op,” aldus prof. Steven Benner, van die Westheimer Instituut vir Wetenskap en Tegnologie in die VSA.

Benner het gister ‘n lesing hieroor by die jaarlikse Goldsmith-konferensie vir geofisici gelewer.

Benner argumenteer dat die omstandighede op aarde drie miljard jaar gelede nie geskik was vir die ontstaan van lewe nie, omdat die aarde eers 2,5 miljard jaar gelede ‘n suurstofryke atmosfeer gekry het. Mars daarenteen, het toe wel oor ‘n geskikte atmosfeer beskik.

Hy baseer egter sy hoofargument daarop dat ‘n noodsaaklike “geroeste” element vir die ontstaan van lewe nie toe op aarde aanwesig was nie, maar dat dit wel op Mars aanwesig kan wees. Die sleutel hier is ‘n erg geoksideerde vorm van die element molibdeen, wat glo ‘n belangrike katalisator is tot die vorming van organiese molekules.

‘n Tweede element is boor, waarvan ontoereikende hoeveelhede op die destydse waterryke aarde sou kon ontwikkel. Toetse op ‘n meteoriet wat van Mars af gekom het, dui daarop dat Mars wel oor voldoende hoeveelhede borium sou beskik.

Hiermee, oordeel Benner, maak hy korte mette met ‘n vraagstuk waarmee wetenskaplikes lank gespook het om die spontane ontstaan van lewe op aarde te verklaar.

Die oer-lewensvorme sou op aarde beland het deurdat rotse van Mars deur vulkaniese uitbarstings of deur trefslae van asteroïdes die ruimte in geslinger is. Meteoriete wat van Mars kom is inderdaad al op aarde gevind.

Benner se idees dat lewe op aarde eintlik uit die ruimte, of selfs van Mars in die besonder kom, is nie nuut nie. Die uitbreek van siektes is al by tye met die aankoms van komete in verband gebring. In ‘n stadium was daar ‘n ophef toe verkeerdelik afgelei is dat spore van organiese materiaal op ‘n meteoriet van Mars gevind is.

Indien Benner se aansprake die toets van wetenskaplike ontleding sal deurstaan, is dit egter die eerste keer dat so iets wetenskaplike stawing sal hê.

Hoewel Benner se aanspraak eers betreklik kort voor sy lesing bekend geword het, het dit reeds meer as drie miljoen trefslae op Google, waarvan enkeles hier, hier en hier gelees kan word.

Al word Benner se voorlegging wetenskaplik uitmekaar geruk, het hy reeds verseker dat ‘n groot aanhang sal hê.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Tegnologie, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willy

Ooeee is dit hoe dit inmekaar steek. My wetenskaplike ontleding is amper soos die prof sn. Ek was altyd oortuig daar was lewe en soos ek sê die ANC was klaar daar dis hoekom dit so bar lyk en niks aangaan nie.

johan

kan hulle nie maar net die waarheid praat en se GOD het ons gemaak nie……..

Paul

Die Afrikaans vir “molybdenum” is “molibdeen”. Die Afrikaans vir “borium” is eenvoudig “boor”.

Henrietta Klaasing

Hier by ons week boere hul waatlemoen-saad in flou molibdeen water – die ontkieming is dan baie beter en dit groei soos bossies!

Henrietta Klaasing

Ek dink die “borium” is iets anders as “boron” – laasgenoemde word in Afrikaans as “boor” vertaal.