‘Ons gaan nêrens’, hou Kanadese betogers vol

’n Regter het Vrydag betogers by die Ambassador-brug wat die VSA en Kanada verbind beveel om die brug te verlaat (Foto: Cole Burston, AFP)

’n Regter het Vrydag betogers by die Ambassador-brug wat die VSA en Kanada verbind beveel om die brug te verlaat. Dié brug tussen Windsor in Ontario en Detroit in Michigan word al die afgelope vyf dae deur vragmotorbestuurders versper.

ʼn Bevel deur die Kanadese regering om dié vragmotors te verwyder is Vrydag deur die Ontario-hooggeregshof goedgekeur.

Honderde vragmotors gaan intussen voort om in die middestad van Ottawa, die Kanadese hoofstad, saam te drom en te betoog teen die verpligte Covid-19-inentings en inperkingsbevele vir mense wat nog nie ingeënt is nie. Dié betogings duur al die afgelope twee weke voort.

Ná die hofbevel het die Windsor-polisie ʼn verklaring uitgereik om “betogers duidelik bewus te maak dat dit ʼn kriminele oortreding is om die grensoorgang te blokkeer”. Die polisie het bygevoeg dat ʼn kriminele skuldigbevinding kan lei tot die beslaglegging van voertuie en ʼn verbod om die VSA binne te gaan.

Twee ander hoofweë na die grens tussen Kanada en die VSA is ook intussen deur vragmotors versper.

Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, het Vrydag met pres. Joe Biden van die VSA oor die grensblokkades beraadslaag.

‘Ons gaan nêrens’

Die skare het sedert Vrydagmiddag gegroei en die atmosfeer het vroliker geword – popmusiek het op luidsprekers geblêr terwyl ʼn flikkerende verkeerslig vir ʼn byna disco-atmosfeer gesorg het (Foto: Ed Jones, AFP)

Minder as ʼn uur voordat die bevel Vrydag in werking getree het, het die betogers by die Ambassador-brug gestem of hulle bly of gaan ry.

Die stem, gevolg deur ʼn dawerende kreet van “vryheid!”, was duidelik: Hulle gaan nêrens heen nie.

Die skare het sedert Vrydagmiddag gegroei en die atmosfeer het vroliker geword – popmusiek het op luidsprekers geblêr terwyl ʼn flikkerende verkeerslig vir ʼn byna disco-atmosfeer gesorg het.

Die bal is nou dus in die wetstoepassers se hande.

Daar was teen Vrydagaand nog geen inhegtenisnemings gemaak en geen boetes uitgereik nie.

Miljoene dollar gaan daagliks verlore weens die grense wat versper word en handel wat dus nie kan plaasvind nie.

Tydens die hofverrigtinge het verteenwoordigers van die motorbedryf, wat verskeie aanlegte in die gebied het en staatmaak op die versending van onderdele heen en weer oor die grens, geskat die Windsor-versperrings kos hulle al sowat 600 miljoen Kanadese dollar (sowat R7 miljard).

Trudeau se boodskap Vrydag aan die land was duidelik: “As jy by die betogings aansluit, moet jy verstaan dat jy wette oortree. Die gevolge word al hoe ernstiger.

“Jy wil nie uiteindelik jou lisensie verloor of met ʼn kriminele rekord eindig nie. Dit sal jou werk, jou bestaan, selfs jou vermoë om internasionaal te reis, insluitend na die VSA, beïnvloed.

“Ons hoor jou frustrasie. Maar dit is nou tyd om nou huis toe te gaan.”

Trudeau sê dit sal ʼn drastiese stap wees om die weermag se hulp in te roep.

BBC, The New York Times

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Helizna ·

Ek identifiseer as ‘n Kanadese lorrie bestuurder! Wens ons kleinsielige volk wil hulle voorbeeld volg.

Yolandie ·

Ek ook!!!!! Tyd vir ons SAfrikaners om ook by te kom en wakker te skrik.

Misky ·

Die betogers is die meerderheid en tyd dat die owerhede hulle ondeurdagte wette heroorweeg. Dis die owerhede wat die ding aan die gang hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.