Ontberings in Venezuela lei tot opstand, rantsoene en geweld

‘n Betoger in Venezuela met ‘n plakkaat wat lees dat die vrou betoog namens diegene wat nie kan nie omdat hulle water soek, omdat hulle nie elektrisiteit het nie en ook nie kos om te eet nie. (Foto: @CristalPalacios / Twitter)

Inwoners van Venezuela het nog ʼn week begin met hoogdrama, toenemende betogings oor kragonderbrekings en bevele van die Nicolás Maduro-regime aan paramilitêre groepe om vuurwapens te gebruik om mense uitmekaar te jaag. Dít nadat hulle opmars bykans die presidensiële paleis bereik het.

Die geweld, waartydens traanrook gebruik en twee mense gewond is, het uitgebreek nadat Maduro sogenaamde vredeseskaders op nasionale televisie beveel het om beheer van die stad te neem.

Maduro het dié bevel Sondag gegee, dieselfde dag waarop hy ʼn ingrypende plan vir beurtkrag aangekondig het. Ure later het inwoners wat naby die Miraflores- presidensiële paleis in Caracas woon, begin met betogings teen tekorte aan water, kos, elektrisiteit en die ure lange sluiting van strate rondom die paleis.

Die buurte rondom die paleis is lank beskou as lojaal aan Maduro se voorganger, wyle Hugo Chávez, en daar was in jare geen betogings in die omgewing nie.

Video’s en stemboodskappe op sosiale media het bevestig dat skote in verskillende dele van die hoofstad gehoor is. Inwoners wat Armes Forces Avenue (ʼn belangrike toegangsroete na die paleis) versper het, is met skote uitmekaar gejaag. Volgens plaaslike mediaberigte is twee mense gewond.

In die suide, in ʼn gebied bekend as el Valle, het die nasionale wag gepantserde voertuie ontbied en inwoners wat die strate versper het met traanrook verjaag.

Die nasionale wag word gesteun deur lede van die land se spesiale magte, oftewel SAF, ʼn gevreesde eenheid wat al deur internasionale organisasies daarvan beskuldig is dat hulle betrokke is by wederregtelike teregstellings.

Die SAF, nasionale wag en paramilitêre groepe in Venezuela staan bekend as colectivos. Hulle is ontplooi weens die groeiende opstand teen die regering. Die onafhanklike organisasie Foro Penal het Maandag beweer die grootste rolspelers in die geweld is weereens gewapende burgermagte wat Chavismo ondersteun. (Chavismo is ʼn linkse politieke ideologie, gegrond op die idees, programme en regeringstyl van die voormalige president, Hugo Chávez.)

Juan Guaidó, president van die nasionale vergadering, word internasionaal as die tussentydse president erken. Hy het Sondagaand gesê gewapende burgerlikes het losgebrand op anti-Maduro-betogers en twee mense in sentraal-Caracas gewond.

“Hy is ʼn moordenaar. Daar is ʼn direkte verantwoordelikheid hier, en dit is nie iets wat gister begin het nie,” het Guiadó gister – met verwysing na Maduro – gesê.

Inwoners van Venezuela steier reeds onder inflasie wat op meer as 2 miljoen persent staan en nou is die elektrisiteit- en waterstelsel óók besig om ineen te stort.

In ʼn ongewone erkenning van die probleem het Maduro Sondag aangekondig dat ʼn landwye beurtkragstelsel ingestel gaan word. Dit sal minstens 30 dae duur.

“Ons is in ʼn benarde posisie,” het Maduro gesê en weereens die skuld vir die kragonderbrekings op ʼn Amerikaanse aanval gepak.

Inwoners van Venezuela betoog al hoe meer teen die agteruitgang van hulle lewensgehalte en Maduro se versuim om stappe te doen. Pleks daarvan dat sy woorde mense tot bedaring bring, het sy uitlatings net verdere onrus en openbare opstand veroorsaak.

Die satiriese nuuswebwerf El Chigüire Bipolar het die situasie opgesom met die woorde “Maduro kondig rantsoenering van voortbestaan aan”.

“Ek moet die strate invaar om ʼn emmer water te kry om my dogters te bad en aandete te maak. Dis nie reg nie. Nicolás Maduro is ʼn oningeligte man wat wil hê ons moet swaar kry,” het ʼn inwoner aan die digitale nuuskanaal VPI gesê.

“Die situasie gaan nie verander nie,” het Luis Felipe Gomez, ʼn vragmotorbestuurder gesê. Gomez verkoop groot houers met water in Caracas vir nagenoeg R20, meer as ʼn week se minimum salaris. Weens ʼn tekort aan kontant aanvaar Gomez ook elektroniese oorplasings wat baie lank duur.

Skurke buit nou ook die situasie uit. Anahiz, ʼn afgetrede bankamptenaar wat uit vrees gevra het dat haar van nie gebruik word nie, het gesê sy het amper R1 400 betaal vir ʼn tenk water wat nie meer as R300 moes kos nie. Venezuela het van die wêreld se grootste grondwaterbronne, maar watertekorte is aan die orde van die dag.

Die regering het klaarblyklik ook geen plan om kragonderbrekings te voorkom nie. Dit laat tot 90% van inwoners met tussenposes sonder krag. Die elektrisiteitsprobleme het boonop ʼn invloed op die verskaffing van drinkwater, selfoon- en internetdienste. Die meeste transaksies word weens hiperinflasie deesdae elektronies gedoen.

Die stelselmatige ineenstorting van die krag- en waterstelsels is onvermydelik, het Diego Moha-Ocampos, ʼn kenner van Latyns-Amerika, gesê.

“Dit is die direkte gevolg van ʼn jare lange gebrek aan belegging en instandhouding van die kragopwekking-en-verspreidingstelsel. Dit het baie lank probleme en onderbrekings veroorsaak, tot die stelsel uiteindelik ineengestort het,” het Moha-Ocampos gesê.

“Om die krisis op te los gaan groot beleggings nodig wees, iets wat onmoontlik is gegewe die risiko’s wat tans in Venezuela heers. Die regering het ook geen toegang tot internasionale finansiering nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Siener ·

Oor ‘n paar jaar lees die opskrif “Ontberings in Suid Afrika lei tot opstand, rantoene en geweld”.

Beket ·

Siener , ek dink nie dit gaan ‘n paar jaar vat nie. Ek din ons is baie nader daaraan as wat ons dink.

Stoffel ·

Die mense van Venezuela kan nie olie eet nie, net so min as wat ons steenkool, goud en platinum kan eet. Dit waar daar gebeur is ‘n bloudruk vir SA.

Hendrik ·

Die mag is uit ons hande maar die kennis is oorlewings. Gebruik die kennis en begin realisties voorsorg tref hoe om so Venusuela situasie te oorleef. Weet jy bv wat se hulpmiddels jy en jou buurman saam kan gebruik? Jy het miskien water en hy het krag. Kan ons regtig die huidige Eskom situasie vertrou? Wat se energie het jy as die gas klaar is? Het jy genoeg hout? Dink miskien om ‘n waterkoeler te bou van houtskool? Het jy solar of’n songeyser? Het jy ‘n drukpomp en het jy genoeg water om die toilet te spoel?

Anoniem ·

Vandag se generasie dink nie daaraan nie Hendrik. Hulle sal nie 3 weke oorleef nie, want die winkels gaan mos nie tot stilstand kom nie.

Judge Dredd ·

Baie blikkies kos – kan vir jare hou en het nie krag of hout nodig nie, net ‘n blik oopmaker.

LR ·

Venezuela is die ANC se broeders, hulle is hand op die blaas met mekaar. Onlangs het die ANC n besoek daar afgelê en hulle het sopas vir die ANC kom kuier.
Net hierdie oor en weer gevryery sê vir n mens watse totale gemors en mislukking die ANC is. In 25 jaar van bewind het hulle al die staatsmaastskapye laat misluk, trouens daar is geen staatsdepartement wat funksioneel is nie. Dit waarop hulle roem sou enige ander party 200% beter kon doen.
Dit is die voorbeeld wat hulle navolg van n land waar die inflasiesyfer 200% is.
Baie mooi ANC mag julle in julle eie uitwerpsel verstik.

Anoniem ·

Met ons CANCER regering is dit ook waar na toe ons op pad is.

BlinkStephaans ·

Jip… en dit is een van ons regering se rolmodelle daardie… te pragtig…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.