Brittanje se minister van buitelandse sake het die afgelope naweek ʼn diplomatieke onthaal gekanselleer wat koningin Elizabeth II veronderstel was om later vandeesweek by te woon.
“Die koningin het die minister van buitelandse sake se raad aanvaar dat die diplomatieke onthaal in Windsor uitgestel moet word,” sê Buckingham-paleis.
Die diplomatieke onthaal – wat jaarliks deur honderde lede van die diplomatieke korps bygewoon word – was veronderstel om Woensdag by die Windsor-paleis plaas te vind.
Dié uitstel volg sowat ʼn week nadat dit bekend geword het dat die 95-jarige koningin positief vir Covid-19 getoets het. Die monarg se siektetoestand was egter nie die rede vir die uitstel nie, maar eerder die voortslepende onrus in Oekraïne.
Die Britse kantoor van buitelandse sake is aan die voorpunt van Brittanje se reaksie op die krisis. Liz Truss, die minister van buitelandse sake, sou glo Brittanje verlaat om “pendeldiplomasie oor die hele Europa en die Verenigde State” te doen.
Buckingham-paleis het nog geen nuwe inligting rakende koningin Elizabeth II se toestand bekend gemaak sedert die vorige aankondiging dat sy verlede naweek positief getoets het en matige simptome ervaar nie.
Die monarg was sedertdien genoop om twee virtuele ontmoetings te kanselleer.
Die Britse Daily Mail berig die ontmoetings is gekanselleer omdat die koningin nog “verkoue” klink. Sy het wel Woensdag telefonies met Boris Johnson, die Britse eerste minister, vergader.
Die publikasie het “koninklike bronne” in dié inligting aangehaal.
Volgens dié bronne is koningin Elizabeth II op die herstelpad en is daar “niks om oor bekommerd te wees nie”.
Hoewel Buckingham-paleis gewoonlik geheimsinnig is oor die koningin se gesondheid, is daar vroeër bevestig dat sy drie Covid-19-inentings ontvang het.
Sky News berig verskeie Covid-19-gevalle is glo onlangs onder die Windsor-kasteel se personeel aangemeld.
Prins Charles, die koningin se oudste seun en troonopvolger, het op 10 Februarie positief getoets, twee dae nadat hy sy ma by die Windsor-kasteel gesien het.
Bykomende bron: AFP
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Nou spaar die britse belasting betalers weer ‘n paar ponde.
Weereens nuus van die koningin waarin nie baie mense belangstel nie. Verkoop die paleis en tree af.
En dit was nog my enigste uitnodiging ooit!