Ontmoet die nuwe president van Zimbabwe

Voorbereidings word getref wanneer Emmerson Mnangagwa Vrydag (24 November 2017) ingesweer word (Foto: ANA)

Emmerson Mnangagwa, die voormalige adjunkpresident van Zimbabwe wat vroeër vandeesmaand deur Robert Mugabe afgedank is, word Vrydag as die nuwe president van dié land ingesweer.

Mnangagwa het Woensdagaand aan ʼn juigende skare gesê Zimbabwe betree ʼn nuwe era van demokrasie. Hy het vroeër die dag na die land teruggekeer, nadat hy vir sy veiligheid na Suid-Afrika gevlug het toe Mugabe hom afgedank het om ʼn weg te baan na die presidentskap vir Grace.

“Die mense het gepraat. Die stem van die mense is die stem van God,” het Mnangagwa aan duisende ondersteuners gesê.

Die weermag het klaarblyklik ʼn moeitevrye weg gebaan vir Mnangagwa se presidentskap. Hy was dekades lank ʼn getroue luitenant vir Mugabe en ʼn lid van sy elite – en het die bynaam “Krokodil” gekry.

Sy eie menseregteagtergrond laat egter vir talle Zimbabwiërs veel te wense oor. Hy was aan die hoof van interne veiligheid toe 20 000 Zimbabwiërs, aldus menseregtegroepe, in die 1980’s gesterf het.

Dit sal ʼn uitdaging wees om die land se welvaart en internasionale stand te herstel. Menseregteskendings en twyfelagtige verkiesings het talle Westerse lande genoop om sanksies in die vroeë 2000’s toe te pas en dit het die ekonomie ʼn knou gegee, ondanks Chinese beleggings.

Feesvieringe voor Emmerson Mnangagwa, ook bekend as “Krokodil” ingesweer word as president (Foto: ANA)

ʼn Vry en regverdige verkiesing volgende jaar kan die sleutel wees tot nuwe finansiering.

Zimbabwe was in ʼn stadium een van Afrika se mees belowende ekonomieë, maar het dekades lank agteruitgegaan onder Mugabe se heerskappy wat beleide ingestel het soos die gewelddadige grondgrype van wit beheerde plase en die druk van geld wat tot hiper-inflasie gelei het.

Meeste van die 16 miljoen inwoners is steeds arm en werkloosheid is baie hoog, iets wat Mnangagwa gesê het hy sal aanspreek.

ʼn Senior beampte van die internasionale monetêre fonds het gesê Zimbabwe se ekonomiese toestand bly “baie moeilik”, aangesien volhoubare groei bedreig word deur buitensporige spandering deur die regering, onhoudbare buitelandse valuta-regime en onvoldoende reformasie. “Onmiddellike stappe is noodsaaklik om die tekort tot ʼn volhoubare vlak te verminder, strukturele reformasie moet bespoedig word en daar moet weer met die internasionale gemeenskap gesprekke gevoer word om toegang te bekom tot noodsaaklike finansiële ondersteuning,” het Gene Leon, hoof van die IMF se sending in Zimbabwe, gesê.

Die opposisieparty, MDC-T, wat ook Mugabe se verwydering ondersteun het, het gesê hy sal Mnangagwa se volgende stappe baie naby monitor, “veral wat betref die ontbinding van al die pilare van onderdrukking”.

Evan Mawarire, die pastoor wat verlede jaar betogings teen die regering gelei het, het gesê Zimbabwiërs moet Mnangagwa laat weet die land moet vir almal wees, en nie net die regerende party nie.

Volgens ʼn rubriek wat Donderdag in die onafhanklike NewsDay-koerant gepubliseer is, het Mnangagwa “ʼn onbenydenswaardige taak” en dat hy ʼn koalisieregering moet saamstel wat alle Zimbabwiërs verteenwoordig. “Sommige burgers voer aan Mnangagwa was nog tot twee weke gelede deel van die Zanu-PF-regime, en hy is dalk moontlik nie die regte persoon vir die taak nie, gegewe die politieke en ekonomiese foute van die verlede,” lui die rubriek. “Die nuwe president sal onder beduidende druk wees om wonderwerke te verrig om sy kritici verkeerd te bewys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Vryheid ·

Zim maak julle gereed…………………………………………… vir niks om te verander nie.

No Grace ·

Ek is hierdie keer optimisties – vir net een rede; dat Mnangagwa vir geruime tyd die vrugte van Christenskap dra. Hy getuig openlik dat hy wedergebore is en preek dat die spoeg spat. Nou hierdie situasie is so bietjie van ‘n “conundrum”. The land received grace without Grace (Mugabe ). Mag ander in SA tog hieruit leer hoe vinnig die wiel in Afrika kan draai.

Is SA volgende? Ek dink die kanse is BAIE goed dat die wiel niu hier ook vinnig kan draai – maar met ‘n lelike “briekmerk”. Ons verandering hier sal nie vreedsaam wees soos in Zim nie – en neskis nie deur ‘n weermag staatsgreep nie, maar deur REVOLUSIE! En dit kan moontlik ‘n bloedbad wees. Anders as in Zim is daar erge rasse polarisasie in SA – dit, behalwe die ontevredendheid met Zuma, kan die groot katalisator wees.

dries du toit ·

Ek sien ons agbare president vind dit benede sy waardigheid om inhuldigingseremonie by te woon. Stuur eerder n junior minister. Is soos n kind wat vir sy maaitjie sê “jyt tog n nuwer fiets as ek gekry,nou ek nie meer jou maaitjie nie”. SIES Jacob SIES

Leahim ·

Ek hoop net die miljoene zimbabwiërs gaan nou terug huis toe

Riaan ·

‘n Groot klug. Niks gaan verander nie. Een despoot is vervang deur ‘n ander. Ek voel regtig jammer vir die mense van Zimbabwe.

Petrus ·

Ek kies om te hoop…
EMMERSON MNANGAGWA – The Crocodile you do not know
Mnangagwa is a terrorist to some and a freedom fighter to others, a politician and leader and one of the pillars of Zanu PF. For all his faults, if he does become the president, either for a term or on a temporary basis, he may be the perfect choice. He has the respect of those in the army, the War veterans, Zanu pf, and much of the people. Just as he has been accused of doing wrong so he has been on the receiving end. This includes the recent poisoning attempt on his life, and torture in the Rhodesian era. However men do not stay the same, and people can change. In 2010 he made a startling confession, that he was taught to destroy and kill, but in the same breath immediately said he had turned a new leaf and had found comfort in the arms of God. Mnangagwa, one of most shrewd politicians who is referred to by those know him well as Ngwena (the Crocodile), told mourners at his brother’s burial that he had turned to Jesus and changed, from being a destroyer to a man of God.
Only the days and weeks ahead will reveal what direction Zimbabwe will take. Zimbabweans though have looked at the last few days as the beginning of answers to prayers made over many decades, and Now is the time Gods face begins to shine on the country

John ·

?.. ja, Zimbabwe het hul lekeprediker dringend nodig. Nou is dit tyd om huistoe te gaan en die groen velde van Natal te los vir die Suid-Afrikaners om self verder te boer. Uncle go home!

Anoniem ·

Ek het ook hoop vir Zimbabwe! En my gebede is met hulle. Vir al die mense wat nogsteeds dood spreek oor Zimbabwe, bly eerder stil as jy niks positieifs te se het nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.