Ontploffing by chemiese aanleg in China eis 19

Foto: Pixabay

Owerhede in China het vroeg Vrydagoggend (plaaslike tyd) gesê ʼn ontploffing by ʼn chemiese aanleg in dié land het die lewens van 19 mense geëis en nóg 12 ander beseer.

Die polisie in Jiang’an het gesê dit is nog nie duidelik wat die ontploffing in ʼn nywerheidsgebied in Yibin Hengda, suidoos van Chengdu, die hoofstad van die suidwestelike provinsie Sichuan, veroorsaak het nie.

Die ontploffing het glo Donderdagaand gebeur en is teen sowat 11:30 (internasionale tyd) ná ʼn ure lange gesukkel geblus. Volgens berigte is nagenoeg drie geboue in dié voorval verwoes en talle vensters van geboue in die omgewing het glo ten tyde van die ontploffing gebars.

CNBC berig die 12 beseerdes is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal opgeneem en ʼn ondersoek na die voorval is reeds van stapel gestuur.

Talle foto’s op sosiale media wys ʼn groot brand wat in die nywerheidsgebied woed en dik wolke rook wat bo die gebied hang.

China het in die laaste paar jaar talle maatreëls in plek gesit om industriële veiligheid te verhoog nadat verskeie voorvalle by die land se steenkoolmyne en chemiese aanlegte China se veiligheidsprotokol onder die loep gebring het.

Altesaam 165 mense is in 2015 dood in ʼn ontploffing by ʼn chemiese aanleg in Tianjin in die noorde van die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snowball ·

China is welombekend vir industriële ongelukke en sterftes – kommuniste, hulle voel eintlik ‘n veer vir werkers en hulle regte. Ons gesittery om een vuur met hulle gaan nog baie pro-kommuniste in Suid -Afrika wreed ontnugter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.