Ontploffing in Engeland ʼn terreur-aanval, sê polisie

Forensiese beamptes van die polisie buite die hospitaal in Liverpool waar ʼn bom op 14 November 2021 afgegaan het (Foto: Paul Ellis/AFP)

Die polisie in die noordweste van Engeland het Maandag gesê hulle hanteer ʼn dodelike ontploffing buite ʼn hospitaal in Liverpool as ʼn terreur-aanval. ʼn Tuisgemaakte bom het Sondag in ʼn taxi afgegaan.

Russ Jackson, hoof van teen-terreurpolisiëring in die streek, sê die rede vir die ontploffing is nog nie duidelik nie. Die tuisgemaakte toestel, wat in die taxi afgegaan en dit in ʼn vuurbal omskep het, is deur die passasier gebou. Die passasier is in die voorval oorlede.

Die ontploffing buite die Liverpool-vrouehospitaal het net minute voor die aanvang van ʼn Sondagdiens, vir Wapenstilstanddag by ʼn nabygeleë katedraal, afgegaan. Dit het vrae laat ontstaan of die geleentheid moontlik die oorspronklike teiken was.

“Ons kan nie in hierdie stadium enige verbintenis bevestig nie, maar dit vorm deel van die ondersoek,” het Jackson tydens ʼn perskonferensie gesê. “Alhoewel die rede vir die voorval nog nie bekend is nie, gegewe die omstandighede, word dit as ʼn terreur-voorval beskou.”

Drie mans, onderskeidelik 21, 26 en 29 jaar oud, is kort ná die ontploffing in nabygeleë Kensington in hegtenis geneem onder die Wet op Terreur. Hulle word ondervra. ʼn Vierde man, 20 jaar oud, was Maandag vroeër in aanhouding, het Jackson bygevoeg en gesê “noemenswaardige items” is by ʼn tweede adres in Sefton Park naby Kensington gevind.

Die ontploffing en vuurbal het digte rook in die lug opgestuur net sekondes vóór Engeland om 1100 GMT stil geword het ter nagedagtenis aan sy gevalle soldate en militêre veterane.

Daar was onmiddellik lof vir die taxibestuurder wat na bewering die passasier – ʼn man – in die taxi toegesluit het toe hy agterdogtig geword het oor sy optrede. Die passasier wou die jaarlikse diens by Liverpool se Anglikaanse katedraal bywoon, aldus plaaslike media wat ondersoekbeamptes en vriende van die taxibestuurder aangehaal het. Die taxi moes egter met ʼn ompad ry omdat sekere paaie gesluit is en het by die nabygeleë hospitaal opgeëindig waar die bom afgegaan het net ná die bestuurder uit die voertuig ontsnap het, het die Daily Mail berig.

Eerste minister Boris Johnson het oomblikke voor die perskonferensie gesê dit sal voortydig wees om in besonderhede kommentaar te lewer oor die voorval, terwyl die ondersoek voortduur. “Dit lyk egter asof die betrokke taxibestuurder vinnig gedink het en baie dapper was,” het hy aan verslaggewers in Londen gesê.

Liverpool-burgemeester Joanne Anderson het gesê die taxibestuurder het ʼn absolute ramp by die hospitaal voorkom. “Ons weet die taxibestuurder het uitgeklim en die deure gesluit,” het sy aan BBC Radio gesê en gewaarsku teen enige verdere spekulasie.

Jackson het nie baie besonderhede gegee nie, maar gesê die taxibestuurder het die passasier in Kensington opgelaai en hy het versoek om hospitaal toe te gaan. “Toe die taxi die aflaaigebied van die hospitaal genader het, was daar ʼn ontploffing in die motor. Dit was vinnig in vlamme gehul. Die taxi bestuurder het uit die taxi ontsnap. Hy is vir beserings behandel, maar is reeds uit die hospitaal ontslaan.”

Sowat 2 000 mense het die kerkdiens bygewoon – een van die grootste buite Londen, aldus die Liverpool Echo-koerant. Die geleentheid is afgesluit met ʼn militêre parade in die strate buite die katedraal.

Die MI5-intelligensiediens verleen ook bystand in die ondersoek, aldus The Guardian en BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marius ·

Daar het ‘n doring boompie vlak by die pad gestaan …..

Hennie ·

Die bom het afgegaan terwyl die bestuurder nog in die voertuig was. Kyk na die video. Nog ‘n aanval deur fanatiese gelowiges.

annie ·

…en so het onluste in SA begin, rasse- en geloofsonmin wat mettertyd eskaleer tot waar ons vandag is, chaos en armoede. Maar die buiteland omarm moeilikheid en die pers speel met moord en doodslag deur radikales as hoofnuus. Uiteindelik sal die glo arme verontregtes, kaalvoet-natuurkinders en bootswerwers na ryker oorde, hul vasloop teen brute weerstand en dan… sal selfs die so-nice-adelikes ook sê: genoeg is genoeg. Daai dag kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.