Ontploffings ruk Indonesië

Foto: African News Agency

Foto: African News Agency

Verskeie bomontploffings het Donderdag verskeie dele van Djakarta in Indonesië geruk.

Volgens berigte het aanvallers plofstof in ʼn Starbucks-koffiewinkel voor die besige Sarinah-winkelsentrum laat afgaan, waarna hulle in ʼn skietgeveg met die polisie betrokke geraak het.

Die polisie het gesê minstens vier aanvallers en drie burgerlikes is in die aanval dood.

Tri Seranto, ʼn veiligheidswag by ʼn plaaslike bank, het aan The Associated Press gesê hy het minstens vyf aanvallers gesien. “Hulle het soos selfmoordbomaanvallers gelyk.”

Genl. Anton Charilyan, woordvoerder van die polisie, ontken egter dat die aanvallers hulself opgeblaas het. “Die aanvallers was gewapen met handwapens en ammunisie, minstens een van hulle was op ʼn motorfiets gewees,” volgens Charilyan.

“Drie aanvallers het by Starbucks ingegaan, terwyl nog twee by ʼn polisiepunt ingegaan het. Daarna het ek geweerskote gehoor,” het Seranto gesê.

Volgens berigte het die skietgeveg tussen die aanvallers en die polisie se teenterrorisme-eenheid uitgebreek kort ná die eerste ploftoestel afgegaan het. Geweerskote is ʼn uur en ʼn half later steeds gehoor.

Dit blyk dat nog ʼn ploftoestel ongeveer twee uur ná die eerste ontploffings die stad geruk het, in ʼn ander kafee naby Starbucks afgegaan het. Dit is steeds onseker of dié ontploffing deur ʼn tydskakelaar beheer is.

Foto: African News Agency

Foto: African News Agency

TVOne, ʼn plaaslike televisiekanaal, berig daar was minstens drie ander ontploffings in dele van die stad. Van die ander ontploffings was in gebiede wat die Turkse en Pakistanse ambassades huisves.

Pres. Joko “Jokowi” Widodo wat op ʼn sakebesoek in Cirebon was, het dadelik na Djakarta teruggekeer nadat die nuus van die aanvalle rugbaar geword het. “Die aanvalle is duidelik daarop gemik om onrus te saai,” het Widodo gesê.

Niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar nie, maar daar was in die afgelope weke verskeie berigte dat “Islamitiese militante iets groots beplan”.

Die jongste voorval was die eerste gewelddadige voorval in Indonesië, sedert die 2009-bomontploffings waarin sewe mense dood en meer as 50 beseer is.

Daar was al voorheen verskeie ontploffings in Indonesië, die land met die grootste Moslem-bevolking. Islamitiese ekstremiste het destyds verantwoordelikheid vir dié ontploffings aanvaar.

Indonesië is op ʼn hoëgereedheidsgrondslag geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Dit is nogal interessant hoe die Islamitiese militante skielik regoor die wêreld toegang verkry en orals chaos veroorsaak. Eers was dit Al-queda nou is dit ISIS en agter die rookskerm… Nou ja… Sit die elite 10% van die wêreld.

Roger ·

Dit is altyd interessant hoe sulke terreur net terloops opduik in die media, as dit nie in sogenaamde eerste wereld lande gebeur nie. As dit nou Parys, New York of London was, dan het ons 24h verslag ontvang. Dankie Maroelamedia dat jul nie selektief is met jul beriggewing nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.