Ontsnapte misdadiger, beampte glo in verhouding

Casey White en Vicky White (Foto: Twitter)

Die kantoor van die sheriff in Alabama, VSA, het Woensdag bevestig die gevangene en korrektiewediensbeampte wat Vrydag spoorloos verdwyn het, het glo ’n “spesiale verhouding” gehad.

Dit is deur medegevangenes van Casey White (38), wat teregstaan weens moord, bevestig. Die gevangenes is tydens ’n ondersoek deur die sheriff se kantoor ondervra.

Die polisie kon egter nie bevestig of die twee se verhouding romanties van aard was nie.

Die beampte, Vicky White (56), het Vrydagoggend gesê sy neem Casey vir sielkundige evaluering, maar amptenare het later besef dié afspraak is nooit geskeduleer nie. Die twee is die laaste keer gesien toe hulle die gevangenis saam verlaat het.

Ondanks die ooreenstemmende vanne is hulle nie verwant aan mekaar nie.

Vicky is al sowat 25 jaar by die departement van korrektiewe dienste en is ’n assistent-direkteur by die kantoor van die sheriff.

Vrydag was veronderstel om Vicky se laaste dag by die werk te wees, nadat sy die dag tevore haar aftreevorms ingedien het, berig BBC. Sy het onlangs haar huis verkoop en aan kollegas gesê sy beplan om meer tyd op die strand deur te bring.

Die polisie glo nou dat Vicky gehelp het om Casey se ontsnapping te orkestreer. Sy het tronkprotokol verbreek toe sy Casey alleen uit die gevangenis begelei het. Volgens wet moet ’n gevangene wat van ’n ernstige misdaad (soos moord) aangekla word, deur twee beamptes vergesel word.

Die polisie het lede van die publiek gewaarsku dat Casey “uiters gevaarlik” is en vermoedelik nou toegang tot ’n AR-15-geweer en ’n haelgeweer het.

Volgens Lauderdale County se sheriff, Rick Singleton, kon niemand sedert Vrydag vir Vicky in die hande kry nie. Hy sê Vicky het vermoedelik haar selfoon afgeskakel en sy gebruik net kontant.

Die Amerikaanse geheime diens help om haar finansiële rekords op te spoor, sê Singleton.

Chris Connolly, distriksprokureur van Lauderdale County, sê hy sou Vicky met sy lewe vertrou omdat sy alles vir haar werk gegee het. “As ons iets uit die tronk nodig gehad het, was sy die regte persoon om te stuur. Sy was ’n lojale en toegewyde werknemer. Dit is hoekom haar verdwyning so skokkend is,” het Connolly gesê.

Casey is in September 2020 aangekla van moord nadat hy die 58-jarige Connie Ridgeway glo met ’n mes gesteek het. Hy is in 2015 reeds tot 75 jaar tronkstraf gevonnis vir ’n reeks geweldsmisdade, waaronder huisbraak, voertuigdiefstal en ’n polisiejaagtog.

Hy het na bewering skuld beken, maar later onskuldig gepleit weens waansin. Hy was verhoorafwagtend by die Lauderdale County-gevangenis toe hy verdwyn het.

Teregstelling staar hom in die gesig indien hy skuldig bevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Die liefde smokkel soms met mens se kop. Dit het al heelwat kere voorheen gebeur , maar hul leer nie. Daars geen toekoms hierin , vir hierdie dame nie.

KatjieDeKat ·

Ja dis hartseer dat sy n eerbare werkrekord van vele jare nou bederf het op hierdie manier. En hy gaan tog weer gevang word, en sy ook. Dan is sy tog maar alleen En in groot moeilikheid ook nou. Dalk tronkstraf vir haar ook. Dom, dom ding wat sy gedoen het. Ai dis n groot jammerte.

Nicholaas ·

En nou gaan sy ook n bandiet word in die naam van liefde, sy kon nou lekker afgetree het gesip het aan cocktails of op lekker sonnige vakansies gegaan het, die liefde is blind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.