Ontvoerde baba teruggekry danksy Facebook

Die ma Melissa McMahon, die pa Simon Boisclair en baba Victoria Foto: Simon Boisclair, Facebook

Die ma Melissa McMahon, die pa Simon Boisclair en baba Victoria Foto: Simon Boisclair, Facebook

Nog ‘n foto van ma en baba volg onderaan die berig. ʼn Pasgebore baba is binne enkele ure nadat sy uit ʼn hospitaal in Kanada ontvoer is, weer aan haar ma terugbesorg, danksy Facebook, berig The Globe and Mail.

ʼn Vrou het haarself soos ʼn verpleegster vermom en aan die ma by Trois Rivières-hospitaal in Quebec gesê die baba moet geweeg word. Die ma, Mélissa McMahon, het aangeneem dit is die waarheid, aangesien haar 16 uur oue baba nog nie geweeg is nie. Sy het egter onraad vermoed toe die “verpleegster” na die uitgang draai met haar baba en nie na die kindersaal nie.

McMahon het gaan navraag doen by die verpleegsterstasie en toe uitgevind die vreemde vrou is met haar baba vort. ʼn Oplettende persoon buite die hospitaal het egter gesien iemand loop weg met die pasgebore baba sonder sokkies of ʼn mus en kon die tipe motor aan die polisie beskryf. Daar was ook ʼn “baba aan boord”-plakker op die venster.

Die pa, Simon Boisclair, het dadelik die besonderhede ook op Facebook versprei. “Help ons asseblief om ons dogter op te spoor. Versprei so gou as moontlik,” het hy geskryf.

Vier vriende, ʼn 19-jarige man en drie 20-jarige vroue, het verveeld by die huis gesit toe hulle die boodskap sien en besluit om die verdagte motor te gaan soek. “Dit is selde dat hier iets opwindend in Trois Rivières gebeur!” het een van die vriende verduidelik. Toe ʼn foto van die verdagte vrou versprei word, het hulle haar boonop herken en na haar huis gery.

Die vriende het die rooi motor buite die huis sien staan en die polisie ontbied. Die 21-jarige verdagte is in hegtenis geneem.

Baba Victoria was, drie ure nadat sy ontvoer is, weer veilig terug in haar ma se arms.

Bron: The Globe and Mail

Die ma Melissa McMahon en baba Victoria Foto: Simon Boisclair, Facebook

Die ma Melissa McMahon en baba Victoria Foto: Simon Boisclair, Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.