Ontvoerde joernalis pleit in video vir vrylating

‘n Skermgreep uit die video wat op sosialemedia sirkuleer (Foto: AFP)

’n Video wat op sosiale media sirkuleer waarin ’n Franse joernalis erken dat hy vroeg in April in Mali, Wes-Afrika, deur ’n djihadistiese groep ontvoer en steeds aangehou word, het groot opspraak verwek. Dié djihadistiese groep het glo bande met die Al-Kaïda-terreurgroep. Hy het glo juis na Gao gereis om ’n onderhoud met ’n djihadisteleier te voer.

In die video, wat 21 sekondes lank is, vertel die joernalis, geïdentifiseer as Oliver Dubois (46), dat hy op 8 April in die sentrale streek van Gao deur die Group to Support Islam and Muslims (GSIM), die grootste djihadistiese alliansie in die Sahel, ontvoer is. Hy pleit ook by sy familie, vriende en die Franse regering “om alles in hul vermoë te doen om hom te bevry”.

In die video is dit duidelik dat hy op die grond, op ’n stuk groen lap wat soos ’n tent lyk, sit. Hy is in ’n ligte pienk tradisionele toga geklee.

Die Verslaggewers Sonder Grense (RSF) en die Franse regering kon reeds bevestig dat Dubois vermis word. RSF is tans besig met die tegniese verifikasie van die video.

Die ministerie van buitelandse sake in Frankryk het gesê hy is in verbinding met Dubois se familie asook die owerhede in Mali.

Christophe Deloire, die sekretaris-generaal van RSF, het bevestig dat hulle reeds twee dae na Dubois se verdwyning daarvan te hore gekom het, maar dit net nog nie aan die publiek bekendgemaak het nie.

Dubois het vir verskeie Franse mediapublikasies, waaronder Le Point Afrique and Liberation, as ervare joernalis gewerk.

Mali sukkel om Islamitiese opstande wat in 2012 in die noorde van die land uitgebreek het, onder beheer te bring. Hierdie opstande het ook na die sentrale dele en die naburige Burkina Faso en Niger versprei.

Duisende mense is reeds tydens die opstande dood en honderdduisende het uit hul huise gevlug, terwyl die ekonomiese impak op een van die armste lande ter wêreld verwoestend is.

Die ontvoering van Malinese en buitelanders vind gereeld plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.