Ontvoerde sendelinge in Haiti ‘leef’

Argieffoto van Port-au-Prince in Haiti (2019) (Foto: Chandan Khanna/AFP)

Die polisie in Haiti het bewyse ontvang dat die groep Amerikaanse sendelinge en hul gesinne wat sedert verlede maand in dié land gyselaar gehou word, leef.

“Ons het bewyse dat al die gyselaars lewe,” het ’n bron by die nasionale polisie aan AFP gesê. Die bron het egter geen besonderhede oor die bewyse verskaf nie.

Die polisie onderhandel tans met die berugte 400 Mawozo-bende nadat die bende 16 Amerikaners en een Kanadees verlede maand buite die stad Port-au-Prince ontvoer het. Onder die ontvoerdes is ook vyf kinders, van wie die jongste maar agt maande oud is.

Die bende eis intussen $17 miljoen (sowat R248 miljoen) vir die groep se vrylating – $1 miljoen (R15 miljoen) per gyselaar.

Christian Aid Ministries, ʼn organisasie sonder winsbejag in Ohio waaraan dié sendelinge verbonde is, het gesê die gyselaars is 12 volwassenes van tussen 18 en 48 jaar oud en vyf kinders tussen die ouderdomme van agt maande en 15 jaar oud. Maroela Media het vroeër berig die groep sendelinge was op pad terug van ʼn weeshuis ongeveer 30 km oos van Port-au-Prince, toe hulle deur die bendelede voorgekeer is.

Die 400 Mawozo-bende het vroeër in ’n video gedreig om die sendelinge te vermoor indien daar nie aan die bende se eise voldoen word nie.

“Aangesien ek nie kry wat ek nodig het nie, sal ek hierdie Amerikaners doodmaak,” het die 400 Mawozo-bende se leier, Wilson Joseph, in Haïtiaanse Kreools gesê.

Die Verenigde State het Amerikaners reeds aangeraai om nie na Haïti te reis nie weens talle ontvoerings in die land.

Bendes wat ’n groot deel van Haïti beheer, het vanjaar reeds meer as 782 ontvoerings uitgevoer met die doel om ’n losprys te eis, sê die Sentrum vir Menseregte-analise en -navorsing in Port-au-Prince.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Kry die Spes magte van Amerika, en bevry die gyselaars.

Frank John

Alle christene moet nou bif vir die mense soos hulle vir Petrus gebid het toe hy in fie tronk gevange gehou is.

piet

Genade, kyk net hoe lyk daai plek op die foto. Tragies.