Ontvoerde sendelinge ontsnap

Die groep sendelinge wat in Oktober in Haiti ontvoer is. (Foto: Christian Aid Ministries)

Die Amerikaanse sendelinge wat in Oktober in Haiti ontvoer is, is weer vry ná ʼn gewaagde ontsnapping.

Die groep van 12, wat ʼn baba en klein kind insluit, kon daarin slaag om hul ontvoerders te ontduik en het kilometers ver oor ʼn ruwe, maanverligte terrein na veiligheid geloop. Dit met babas en klein kinders by hulle, het die Christen-organisasie waar hulle betrokke is Maandag gesê.

Volgens Christian Aid Ministries in Ohio het die sendelinge die sterre gebruik om hul weg te vind en veiligheid te bereik, ná ʼn twee maande lange beproewing.

“Hulle het ʼn baba en driejarige kind gedra en in lappe toegedraai om te voorkom dat hulle deur takke geskraap word,” het Weston Showalter, die organisasie se woordvoerder, gesê.

“Nadat hulle ure lank geloop het, het die son begin opkom en hulle kon uiteindelik by iemand uitkom wat namens hulle ʼn oproep gemaak het,” berig CBS.

Maroela Media het vroeër berig die sendelinge is op pad terug van ʼn weeshuis buite Haiti se voorstad Port-au-Prince deur ʼn gewelddadige bende voorgekeer.

Later is ʼn losprys vir hul vrylating geëis. Vyf van die oorspronklike groep van 17 ontvoerdes is later vrygelaat.

Die oorblywende 12 lede van die groep is kort ná hul ontsnapping na Florida in die VSA geneem en met die vyf ander lede van die groep herenig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.