Ontvoerde seun en sy ma ná 20 jaar herenig

Die enigste foto wat Steve Hernandez se ma vir meer as 20 jaar van hom gehad het. (Foto: San Bernardino County District Attorney's Office via AP)

Die enigste foto wat Steve Hernandez se ma vir meer as 20 jaar van hom gehad het. (Foto: San Bernardino County District Attorney’s Office via AP)

Maria Mancia het vir meer as 20 jaar lank slegs ʼn enkele dowwe foto van haar seun gehad, nadat hy as 18 maande oue baba ontvoer is.

Steve Hernandez, nou 22 jaar oud, se pa het hom in 1995 uit hul huis in Kalifornië ontvoer en elke foto wat in die huis van hom was, selfs die sonarfoto wat tydens Maria se swangerskap geneem is, saamgevat. Maria moes een van haar familielede vir ʼn foto vra om iets te hê wat sy vir die polisie kon wys.

Polisiebeamptes het egter vroeër vanjaar ʼn wenk ontvang wat hulle na Mexiko en Steve gelei het.

Steve, ʼn regstudent, het dadelik na Amerika teruggekeer en is met sy ma herenig.

“Dit was ʼn skok,” het hy aan die San Bernardino Sun gesê. “Ek het nie geweet of sy lewe of nie en om dan ʼn oproep te kry dat hulle my ma gekry het en dat sy na my gesoek het… Dit het soos ʼn emmer koue water gevoel. Maar dis goed. Dis goed.”

Die egpaar en hul seuntjie het in Rancho Cucamonga gebly en Maria en haar man het probleme in hul verhouding beleef. Maria het een dag van die werk af gekom en aanvanklik gedink hulle is besteel. Dit het haar ʼn rukkie lank geneem om uit te vind dat haar man met hul seuntjie weg is.

Die San Bernardino-kinderontvoeringseenheid is al jare lank op soek na Steve en het selfs in verskillende state na hom gesoek. Ondersoekbeamptes het uiteindelik vanjaar in Februarie ʼn goeie wenk ontvang dat hy in Puebla, Mexiko is. Die pa, Valentin Hernandez, word vermis en is vermoedelik dood, het owerhede gesê.

Karen Cragg, senior ondersoekbeampte wat die soektog gelei het, het gesê hulle moes Steve versigtig benader. “Ons wou aanvanklik nie hê hy moet weet wat aangaan nie,” het sy Donderdag aan die Associated Press gesê. “Ons wou hom nie afskrik nie. Ons was nie seker wat die omstandighede daar sou wees nie. Ons moes baie versigtig optree.”

Steve Hernandez omhels sy ma vir die eerste keer in meer as 20 jaar in San Diego, Kalifornië (Donderdag, 9 Junie 2016) Foto: Christopher Lee/San Bernardino County District Attorney's Office via AP

Steve Hernandez omhels sy ma vir die eerste keer in meer as 20 jaar in San Diego, Kalifornië (Donderdag, 9 Junie 2016) Foto: Christopher Lee/San Bernardino County District Attorney’s Office via AP

Hulle het vir Steve gesê hulle is op soek na sy vermiste pa sodat hulle ʼn onderhoud met hom kon voer en ʼn DNS-monster kon kry. Al die feite het gepas by dit wat hulle van die vermiste seuntjie geweet het.

Cragg het daarna die departement van justisie gevra of hulle die toets vinnig kon afhandel, omdat sy geweet het dit kan ʼn paar maande lank neem. “Hulle het my binne twee weke gebel om te bevestig dit is Steve.”

Cragg en haar kollega, Michelle Faxon, is dadelik na Maria se huis. “Dit was asof sy ons aanvanklik nie wou glo nie. Sy het begin huil. Sy het gesê sy kan nie glo hy leef nog steeds nie.”

Omdat Steve ʼn Amerikaanse burger is, was daar nie enige immigrasieprobleme om hom na Amerika terug te bring nie, het Cragg bygevoeg. Owerhede in albei lande was behulpsaam om seker te maak alles verloop glad.

Steve se pa het vir hom gesê sy ma het hulle twee verlaat.

Hy het boonop vier jonger sussies en boeties, van wie hy niks geweet het nie.

Steve het gesê hy beplan om in Amerika te bly en hoop om sy studies af te handel, wat hy in Mexiko begin het.

Hy het sy huilende ma omhels toe hulle mekaar uiteindelik ontmoet het, en die trane van haar wange afgevee.

“Nou is hierdie angs wat ek gedra het, uiteindelik weg, nou dat ek my seun terug het,” het Maria aan KABC-TV gesê. “Ek het 21 jaar lank na hom gesoek en niks geweet nie.”

– Amy Taxin van Associated Press het uit Santa Ana, Kalifornië, tot hierdie berig bygedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Skapie ·

Wat ‘n goeie storie na al die aaklige goed wat ek elke dag lees

Elmarie Pretorius ·

Fantasties so bly daai moeder hart moes deur hel gegaan het. Tans is ons besig met 2 presies dieselfde sake . Al word daar die 1 deur na ander in ons gesig toe gemaak oor SAPS se n ouer kan niw sy eie kind ontvoer .ek sal aanhou tot ek die kinders met ouers versoen het. Al vat dit my ook 22 jr as God my spaar maar vir die 2 mammas sal ek nie opgee

Bid vir jou ·

Goeie werk Elmarie, ek bid vir jou en dat ons liewe Vader vir jou die insig sal gee om hierdie ouers en kinders bymekaar te kry!

genie ·

so verblydend. herinner my aan n mama op f b wie se dogters veertig jaar gelede met hulle pa “verdwyn” het. lees meer van hulle by searching for angela and Sharona poulton.

Rupert Ashford ·

Ai ons mense mors met ons kinders omdat ons verskriklik selfsugtig is en nie ons huwelike respekteer nie. As mens dan wil loop, vat jou goed en vat die pad voor die eerste kindjie daar is. Daarna gaan dit nie meer oor die ouers nie. Om te bly en vir mekaar lief te wees is ‘n keuse.

snoefie ·

how vreeslik van die namibiese vrou lily renn. ek hou duim VA’s dat haar dogters ook opgespoor sal word. al is dit veertig jaar later en hulle dalk al oumas.

Mooi storie ·

Dankie Maroela dat jul hierdie mooi storie deel, dit is so mooi mens tjank sommer lekker saam van bly wees vir die Ma en seun!

net n mamma ·

Wow wat n stunning verhaal in ons mal wereld mag GOD jul sëen in jare wat voorlê

Gesiggie ·

Wat n mooi storie.. so hartseer… die arm Ma het soveel van haar seun se lewe gemis, maar van nou af kan hul net elke oomblik saam geniet en opmaak vir al die verlore tyd… so baie bly vir jul…. mag jul lewe saam van nou af net wonderlik wees..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.