Ontvoerde tiener 10 jaar later opgespoor danksy Facebook

Isidro Garcia Foto: Santa Ana-polisie

Isidro Garcia Foto: Santa Ana-polisie

ʼn Vrou wat 10 jaar gelede as tiener ontvoer is, is uiteindelik met haar familie herenig nadat sy haar suster op Facebook opgespoor het.

Die slagoffer, nou 25 jaar oud, het Maandag die Santa Ana-polisie in Kalifornië, Amerika, gekontak en gesê sy is in 2004 deur haar ma se ekskêrel ontvoer, gedwing om met hom te trou, en sy kind te baar. Sy is verstandelik, fisies en seksueel mishandel. Haar naam is nie bekend gemaak nie.

Isidro Garcia (41) is dieselfde dag nog op aanklag van ontvoering, seksuele misdrywe met ʼn minderjarige en dat hy die vrou teen haar wil aangehou het, in hegtenis geneem.

Volgens korporaal Anthony Bertagna van die Santa Ana-polisie, het die vrou in Februarie 2004 as 15-jarige onwettig uit Mexiko in Santa Ana, ongeveer 48 suidoos van Los Angeles, aangekom. Sy kon nie Engels praat nie.

Garcia was in daardie stadium haar ma se kêrel. Haar ma het een aand, ná ʼn bakleiery met Garcia, die huis verlaat en die tiener het self na ʼn nabygeleë park gestap. Garcia het haar agtervolg, en toe hy by haar kom, het sy gesê sy het hoofpyn en wil huis toe gaan. Hy het haar begin dreig en vyf pille gegee wat glo met die hoofpyn sou help. Sy het egter haar bewussyn verloor en toe sy wakker word, was sy in ʼn motorhuis toegesluit in Compton, tussen Santa Ana en Los Angeles.

Die ma het haar dogter as vermis aangemeld by die polisie, maar die polisie kon vir 10 jaar lank nie ʼn deurbraak maak nie. Garcia het gereeld hulle name, geboortedatums en blyplek verander. Hy het glo ook vir haar gesê haar familie soek nie meer na haar nie, en indien sy met hulle sou kontak maak, sal hulle gedeporteer word.

“Die slagoffer het gevoel daar is nie ʼn uitkomkans nie,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.

Garcia het in 2007 dokumente van Mexiko ontvang waarin die meisie ʼn nuwe naam en geboortedatum ontvang het. Hy het hierdie dokumente gebruik om met haar te trou. Hulle dogtertjie is in 2012 gebore. Hy het ook seker gemaak dat hulle saam as skoonmakers tydens die nagskof werk sodat hy ʼn ogie oor haar kon hou. Sy het twee keer probeer ontsnap, maar is daarna erg aangerand.

Sy het onlangs haar suster op Facebook opgespoor en hulle het begin gesels. Sy het ook uitgevind dat haar ma nog die heeltyd poog om haar op te spoor. Sy het toe aan haar eie dogtertjie se situasie begin dink en besef sy moet Garcia verlaat. Sy is Maandag na die polisie in Bell Gardens, ongeveer 32 km vanwaar sy aanvanklik ontvoer is. Garcia is daarna aangekeer.

Die bure was glo geskok en het Garcia en die vrou as ʼn “gelukkige paartjie” beskryf wat baie lief is vir hul dogter en graag partytjies by hul huis gehou het. Hulle het Garcia egter as Tomas Medrano geken en hulle het hom as ʼn “toegewyde pa” beskryf wat hard gewerk het om vir sy vrou en dogtertjie te sorg. -SAPA

Klik hier vir nog foto’s en ‘n video-onderhoud met die vrou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Liewe genade!!! Die siek man. Sluit hom toe en gooi die sleutel weg, sodat daai vroutjie met haar lewe kan aangaan.

Watter siek siel hou iemand vir 10jaar aan en dan maak hy haar boon-op swanger…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.