‘Ontvoerde’ tienerdrawwer gevind

Franse polisiebeamptes loop met ’n hond in Sable-sur-Sarthe kort nadat die tiener by ‘n plaaslike restaurant gevind is. (Foto: JEAN-FRANCOIS MONIER / AFP)

’n Franse tiener is met haar gesin herenig nadat sy Maandag vermis geraak het toe sy dié middag in ’n woud in die noordweste van Frankryk gaan draf het. Daar word nou beweer dat sy ontvoer is.

Sowat 200 Franse polisiebeamptes is ontplooi om na die vermiste 17-jarige meisie in die Mayenne-streek te soek voordat sy eindelik Dinsdag, 24 uur ná haar verdwyning, lewend in ’n kitskosrestaurant in die dorpie Sable-sur-Sarthe, sowat 10 km daarvandaan, gevind is.

Die tiener was glo erg geskok.

Die openbare radionetwerk France Bleu berig die tiener het in die restaurant gaan skuiling soek en die eienaar van die restaurant meegedeel dat sy van ʼn bende ontvoerders ontsnap het wat haar in die woud gegryp het.

Sy is intussen hospitaal toe geneem om medisie toetse te ondergaan en is deur die polisie ondervra.

Die staatsaanklaer in beheer van die ondersoek het in dié stadium nog geen besonderhede oor die omstandighede van die meisie se verdwyning bekend gemaak nie, maar wel gesê dat die polisie nog probeer om ʼn tydlyn van gebeure op grond van die tiener se verklarings vas te stel.

Volgens aanklaer Celine Maigne is niemand nog in verband met die meisie se verdwyning in hegtenis geneem nie. ’n Man is aanvanklik Maandagaand aangehou, maar is sedertdien vrygelaat.

Verskeie plaaslike media berig dié man het glo agterdogtig voorgekom nadat hy die polisie verskeie kere gebel het om inligting oor die verdwyning te probeer bekom.

Oorfone vol bloed

Die meisie se ouers het die Franse polisie Maandagaand ontbied nadat sy nie van haar gereelde middagdraffie teruggekeer het nie. Haar pa het na haar gaan soek en op van haar persoonlike besittings afgekom.

France Bleu het berig haar selfoon en oorfone het bloed opgehad toe dit in die omgewing gevind is.

Ondersoekbeamptes het data van haar hardloop-app bestudeer en opgemerk dat haar oefensessie skielik by ʼn vurk in die Bellebranche-woud tot ’n stilstand gekom het.

Maigne beskryf die tiener as “gefokus, versorg en sportief”.

Die meisie se identiteit is nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hoopvol

Ek glo die man wat gearresteer is (en weer vrygelaat is), het VERDAG voorgekom, en nie “agterdogtig” nie? Die polisie wat hom gearresteer het was waarskynlik agterdogtig…

Niklaas

Daar in Frankryk is nou soveel van die nuwe burgers , immigrante van ander meer suidelike lande . En hul is honger en soek geld. Sal nie verbaas wees as paar van hulle betrokke was by hierdie voorval nie.