Onwettige handel kan jagluiperds laat uitsterf

ʼn Lid van die Jagluiperd-bewaringsfonds met ʼn jagluiperdwelpie in Hargeisa, Somaliland (Foto: Eduardo Soteras/AFP)

Klein weke oue jagluiperdwelpies word met bottels gevoer, hul toestand steeds bedenklik, ná hulle van onwettige handel in die Somaliese Skiereiland gered is.

Sowat die helfte van die welpies wat van onwettige dierehandelaars gered word, oorleef nie die trauma nie. Die kleinste welpie uit dié groep, genaamd Green, weeg slegs 700 g.

“Dit was maak of breek vir Green,” sê Laurie Marker, stigter van die Jagluiperd-bewaringsfonds (CCF) oor dié welpie by die niewinsgewende organisasie se reddingsentrum in Somaliland.

Ongeveer 300 jagluiperdwelpies word jaarliks onwettig deur Somaliland gesmokkel na welgestelde kopers in die Midde-Ooste wat op soek is na eksotiese troeteldiere. Hulle word van hul ma’s weggeneem en deur die oorloggeteisterde Jemen vervoer na die Golf. Welpies wat die reis oorleef word vir sowat $15 000 (byna R230 000) op die swartmark verkoop.

Dit is ʼn besige onwettige mark, alhoewel dit minder bekend is as die onwettige handeldryf met olifant-ivoor of renosterhoring. Dit het egter ʼn soortgelyke verwoestende impak op Afrika se mees bedreigde grootkatspesie.

Laurie Marker, stigter en uitvoerende direkteur van die Jagluiperd-bewaringsfonds (Foto: Eduardo Soteras/AFP)

Daar was ʼn eeu gelede sowat 100 000 jagluiperds wêreldwyd. Vandag is daar skaars 7 000 oor. Die getalle het afgeneem weens habitatverwoesting en menslike indringing.

Meer as 3 600 lewendige jagluiperds is in die dekade tot Desember 2019 wêreldwyd onwettig verkoop, aldus navorsing wat hierdie jaar gepubliseer is. Honderde advertensies vir welpies verskyn op sosialemediaplatforms soos YouTube en Instagram.

“As dit só voortduur, sal die bevolking baie vinnig uitsterf,” het Marker bygevoeg.

Sy sê welgestelde eienaars spog graag met hul jagluiperds in selfies – net soos met hul voertuie en kontant.

Die stryd teen die onwettige handel is veral ʼn uitdaging omdat Somaliland daardeur betrek word – ʼn selfverklaarde republiek sonder enige internasionale erkenning, en een van die wêreld se armste streke. Welpies word mishandel tydens die smokkelproses. Hulle word nie behoorlik gevoer nie en word in baie klein hokke aangehou. Hul pote word soms met kabelbinders vasgemaak.

Die regering het die afgelope paar jaar ingegryp in die onwettige handel. Van slegs ʼn handjievol welpies in 2018 het CCF tans 67 jagluiperds in drie skuilings in die hoofstad Hargeisa. Wette wat die verkope van jagluiperds ʼn strafregtelike oortreding maak, word ook toegepas. ʼn Sindikaat is in Oktober 2020 oopgevlek en ʼn hoëprofiel dierehandelaar is vervolg.

Lede van die Jagluiperd-bewaringsfonds voer jagluiperdwelpies in Hargeisa, Somaliland (Foto: Eduardo Soteras/AFP)

Somaliland is besig om sy misdaadintelligensie uit te brei en deel inligting met buurlande soos Jemen. Die regering werk ook saam met verarmde landelike gemeenskappe wat geteister word deur jagluiperds. Van die 13 welpies wat tussen September en November gered is, is minstens vier van boere afgeneem wat hulle wou verkoop in ʼn poging om geld terug te kry vir die verliese wat hulle gely het. Hulle voer aan hul vee is deur jagluiperds aangeval.

“Die volgende generasie sal dalk nooit ʼn jagluiperd te sien kry as dié onwettige handel voortduur nie,” het Edna Adan Ismail, voormalige minister van buitelandse sake van Somaliland, tydens ʼn teenstropery-konferensie in September gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank John ·

Die begeerte na rykdom en aansien sal mense se intergiteit en omgee laat verdwyn. Hulle raak self sugtig en niks is meer belangriker as hulself en wat hulle kan kry nie. Dit gaan nie meer oor net om genoeg te hê nie maar net meer en meer ongeag wie seer kry of benadeel word nie. Solank hulle hulself kan bevoordeel.

Pieter ·

En in Suid Afrika word ‘n jagluiperd in die Krugerpark doodgery deur ‘n voorheen benadeelde persoon en geen haan kraai daarna nie. Daar heers te min respek vir God se natuur waarvan ons slegs Rentmeesters is.

christo ·

Die rykdom van ‘ swart goud’ en die wêreld se afhanklikheid daarvan veroorsaak dat die res van die wêreld hierdie tipe misdaad ignoreer. Die oliebronne maak wat hulle wil, maar laat ‘n buitelander misdaad pleeg in daardie land, dan word jy vir lank toegesluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.