Ooreenkoms rakende TikTok dra Trump se goedkeuring weg

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het ’n ooreenkoms tussen Oracle, TikTok en die Amerikaanse kettingreus Walmart goedgekeur wat waarskynlik beteken dat die Chinese kortvorm-video-app se bedrywighede in die VSA kan voortgaan.

Trump het Saterdag gesê die konsep van die betrokke ooreenkoms dra sy goedkeuring weg aangesien dit verseker dat die data van die sowat 100 miljoen mense in die VSA wat van dié app gebruik maak, veilig is.

“Ek het die ooreenkoms my seën gegee,” het die president aan verslaggewers bevestig.

Die Amerikaanse tesourie het die vordering van die ooreenkoms bevestig. “Die president het ʼn ooreenkoms tussen Oracle, Walmart en TikTok Global hersien om aandag te gee aan die bedreiging van nasionale veiligheid wat TikTok se bedrywighede inhou,” het Monica Crowley, woordvoerder van die tesourie, Saterdag gesê.

Volgens Crowley sal Oracle verantwoordelik wees vir sleuteltegnologie en veiligheidsverantwoordelikhede om alle Amerikaanse gebruikersdata te beskerm.

Pres. Donald Trump. (Foto: Alex Brandon/AP)

Dit volg nadat Trump sy kommer uitgespreek het oor die veiligheidskwessies wat dié Chinese app inhou vir gebruikers se data.

TikTok het intussen in ʼn verklaring gesê sy ooreenkoms met Oracle en Walmart sal die Amerikaanse regering se veiligheidskwessies asook vrae rondom TikTok se toekoms in die VSA oplos.

“Oracle sal as deel van hierdie ooreenkoms ons betroubare tegnologieverskaffer word wat verantwoordelik is vir die aanbieding van alle Amerikaanse gebruikersdata en die beveiliging van gepaardgaande rekenaarstelsels om te verseker dat die nasionale veiligheidsvereistes van die VSA volledig nagekom word.”

Dié wending volg kort nadat die Amerikaanse departement van handel Vrydag ’n verbod op die aflaai van TikTok en die Chinese app WeChat aangekondig het.

Trump se goedkeuring van die kooptransaksie tussen TikTok, Oracle en Wallmart beteken egter nou dat die verbod op TikTok opgehef word.

Die aflaai of enige bywerkings van WeChat op Amerikaanse mobiele appwinkels is egter steeds van vandag in die VSA verbode en dus nie meer beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

Daylight robbery. Wat van Amerikaanse maatskappye soos Microsoft, Google, Twitter, Facebook, ens. Gaan die VSA hulle kliente se inligting vir hulle hou, of dan regverdig wees en dit nie doen nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.